South Africa

Health Care

Score 3.7 (3 Votes)

“Herfssiekte” by skape of bokke en hoe om dit te behandel

Hierdie tyd van die jaar is daar baie kleinveeboere wat gereeld kla van diere met “sakke onder die keel” by hul skape of bokke. “Ons doseer die skape maar hulle sukkel nog steeds om dit onder beheer te kry” - hoor ons gereeld. Wat veroorsaak dit en wat kan hulle daaraan doen?

Agtergrond

Haarwurm (Haemonchus contortus) is ’n bloedsuiende rondewurm. Dit is waarskynlik die inwendige parasiet wat in die somerreënval gebiede, die grootste negatiewe uitwerking op skape en bokke het in terme van jaarlikse produksieverliese en mortaliteite (vrektes). 

Die vorming van sakke onder die keel of “kwakkeel” soos dit algemeen bekend staan, kan verskeie oorsake hê. Hierdie tyd van die jaar, veral wanneer dit goed gereën het, is dit gewoonlik as gevolg ‘n swaar haarwurmbesmetting. Die kwakkeel is as gevolg van die aansameling van vog. Dit is die direkte gevolg van bloedarmoede en verlies aan bloedproteïene wat deur groot getalle haarwurm veroorsaak word. (Sien foto’s)

Lewensiklus

Die eiers wat saam met die mis uitgeskei word broei onder gunstige omstandighede (vog en temperatuur) uit (L1 en L2 stadium). Dit ontwikkel tot die besmetlike larfstadium (L3) wat teen die gras opklim en dan saam met die weiding deur die skape en bokke ingeneem word. Binne die dier ontwikkel dit na die L4 en daarna na volwasse stadium.  Die volwasse wyfies le eiers (tot 10 000 per wyfie per dag), wat weer in die mis uitgeskei word om die lewensiklus te voltooi. Onder gunstige omstandighede kan die siklus so kort as 21 dae wees. (Sien skematiese voorstelling) 


Simptome en Skade veroorsaak

Soos reeds genoem is die parasiet bloedsuiend. Indien die getalle binne die dier drasties toeneem, het dit ‘n groot negatiewe invloed op die skaap. Die L4 en volwassenes vestig in die melkpens en dunderm en voed op bloed vanaf die maag- of dermwand. (‘n 1000 wurms kan 50ml bloed per dag inneem!). Skape raak dus bloedarmoedig, lusteloos en traag. Later kan diere so verswak dat hulle nie meer behoorlik kan wei nie, ontwikkel kwakkeel (nie alle gevalle nie) en vrek uiteindelik as gevolg van ‘n suurstoftekort aangesien daar te min rooibloedselle is wat suurstof dra. 

NB. Wanneer omstandighede  gunstig is en die besmetting op die weiding baie hoog is, kan die getalle binne die dier so vinnig toeneem dat diere kan vrek selfs voordat kliniese tekens waargeneem word. Dit gebeur veral wanneer diere aangejaag word of onder stres geplaas word.

Produksieverliese soos verlaagde wolgroei en GDT vind ook plaas met ‘n laegraadse, aanhoudende besmetting. Dit kan die melkproduksie van ooie verlaag, wat lei tot lammers wat swakker groei. Die kondisie van die diere kan ook sodanig negatief beïnvloed word dat dit uiteindelik ook verlaagde reproduksie tot gevolg kan hê.

Bepaling en monitering van besmetting

Miseiertelling:

Die mees algemene metode wat gebruik word om die teenwoordigheid en graad van besmetting te bepaal, is deur middel van ‘n misietertelling. Alhoewel met ‘n standaard miseiertelling net die hoeveelheid rondewurmeiers bepaal word (waarvan haarwurm een van die spesies is), is haarwurm gewoonlik in die somermaande in die somerreënvalgebied die hoofoorsaak van probleme. Gereelde miseierontledings kan as vroeë waarskuwing dien. Iets om in gedagte te hou, is dat die L4 stadium ook bloed inneem maar nog nie eiers lê nie. Dit kan dus gebeur dat met ‘n skielike swaar besmetting, die diere bloedarmoedig kan raak voordat ‘n drastiese verhoging in die miseiertelling waargeneem word!

FAMACHA:

Dit behels die gereelde ondersoek van die diere se oogslymvliese in die somermaande om die graad van bloedarmoede (haarwurmbesmetting) te bepaal. Met opleiding is die tegniek is redelik eenvoudig om te bemeester (moet reg uitgevoer word!). Die slymvlies van die derde-ooglid  behoort donkerrooi tot rooi van kleur te wees. Sodra die kleur van die oogslymvlies onder ‘n sekere drempel daal (bleek word), moet daardie diere individueel gemerk en behandel word. (Indien hierdie individue herhaaldelik behandel moet word, behoort hulle geprul te word.) Sodra ‘n sekere persentasie van die kudde bloedarmoedig raak kan die hele trop behandel word om verliese te voorkom. 

Nadoodse ondersoek:

‘n Haarwurmbesmetting kan met ‘n nadoodse ondersoek bevestig word. Indien teenwoordig, sal haarwurm in die melkpens en dunderm waargeneem word. Dit is ongeveer een tot drie sentimeter lange draadagtige, ronde- of silindriesewurms. Die volwasse wyfies het ‘n kenmerkende rooi spiraal om die lyf - vandaar die Engelse beskrywing van “Barbers pole”. (Sien foto)

BEHANDELING

By die behandeling is daar ‘n paar faktore wat ons ingedagte moet hou:

  • Diere wat reeds kwakkele het:

Diere wat reeds tekens van bloedarmoede toon of kwakkele ontwikkel het, moet so spoedig moontlik met ‘n kontakmiddel behandel word. ‘n Kontakmiddel is ‘n produk wat ‘n aktief bevat wat die haarwurm op kontak doodmaak bv. Prodose Red wat levamisool bevat. Nadat die bloedvlakke herstel het, kan ‘n middel wat sistemies werk (deur bloedproteïene gedra word) toegedien word (bv. Prodose Orange of Yellow LA). Indien nodig (kwakkele nog nie heeltemal weg nie), kan die kontakmiddel behandeling 10 dae na die 1ste behandeling herhaal word, voordat ‘n middel wat sistemies werk 10 dae later gedoseer word. Ondersteunende behandeling met Vit B Co en Carmino+ kan herstel aanhelp.

NB. Onthou om altyd ‘n mismonster te neem en te laat ontleed van diere wat behandel word en weer 10 dae later van DIESELFDE diere, om die effektiwiteit van die middel te bepaal.

  • Diere sonder kwakkele:

Indien die miseiertelling bo >1500 eiers / g mis gaan en die toestande gunstig is (reën, hitte, aangeplanteweidings, aanhoudende beweiding, swaardragtige ooie, lammers), om ‘n drastiese toename in besmetting te verwag, kan daaraan gedink word om die hele kudde te behandel. Indien die diere se oogslymvliese met die FAMACHA metode pienk tot ligpienk is NIE reeds baie bleek of wit is nie, kan die diere met ‘n middel met sistemiese werking behandel word bv. Prodose Orange of Yellow LA (wat ook 35 nawerking teen haarwurm het).

Onthou weereens om mismonsters te neem met behandeling en 10 dae later weer van dieselfde gemerkte diere om die effektiwiteit van die middel te bepaal.

Faktore wat die effektiwiteit van middels kan beinvloed:

  • Bloedarmoede:

By diere wat reeds bloedarmoedig is, is die werking van produkte wat aktiewe bevat wat deur die bloed vervoer word en die wurms dood nadat hulle bloed ingeneem het (sistemiese werking), nie so doeltreffend nie. Dit kan daartoe lei dat diere nog steeds kan vrek, al is hulle behandel en dan is dit nie noodwendig die middel se skuld nie.

  • Verkeerde dosis toegedien:

Die massa van skape moet bepaal word om die korrekte dosis volgens die produk se aanwysings toe te dien. Skat van gewig kan veral onderdosering tot gevolg hê. Indien diere in die trop redelik eenvormig is, kan die dosis volgens die swaarste skaap bepaal word. Indien die diere nie eenvormig is nie, moet hulle eers gesorteer word volgens massa- of ouderdomsgroepe en dienooreenkomstig behandel word. Maak ook seker dat die toediener korrek gestel is vir die dosis wat toegedien moet word.

  • Foutiewe toerusting:

Outomatiese doseerspuite, veral as dit nie elke keer na gebruik deeglik skoongemaak word nie, kan maak dat die diere nie die korrekte dosis ontvang nie (al is die spuit reg gestel!). Aanpaksels kan die werking van die “non return valve” belemmer, sodat ‘n gedeelte van die middel terugvloei na die houer en net ‘n gedeelte fisies in die skaap se mond beland! Die beste is om ‘n toetsglasie te gebruik om te bepaal of die dosis ooreenstem met dit waarop die spuit gestel is - VOOR met dosering begin word. Dit kan ook gebeur dat daar lug in die toediener se glasie kom. As dit nie reggestel word nie sal die diere ook nie die regte dosis ontvang nie. Soos met die doseerspuit, kan dieselfde ook met inspuitbare toedieners gebeur.

  • Nie alle skape behandel nie:

Soms gebeur dit dat die drukgang oopgaan, skape deurmekaar raak of diere gladnie teenwoordig is met behandeling nie. Nodeloos om te sê, hierdie diere is nie behandel nie kan die middel nie vir ondoeltreffendheid geblameer word nie!

  • Verkeerde toedieningstegniek:

Dit ‘n belangrik om die regte tegnieke toe te pas om seker te maak dat die dier die volle dosis ontvang. Met dosering kan dit gebeur dat van die middel tydens of direk na dosering uitgespoeg word. Sulke diere moet dadelik weer behandel word. Met die inspuitbare middels, veral in wolskape met lang wol (>4mnde) en onderhuidse inpuiting in die nekarea, is dit moeilik om te bepaal of die middel nie uitlek of dwarsdeur te vel gespuit is nie. Sulke skape is dan gladnie behandel nie of teen ‘n laer dosis.

  • Weerstand:

Sommige parasiete het, weens verskeie redes, reeds weerstand teen seker aktiewe ontwikkel en dan kan die middel ondoeltreffend wees. Daarom is die bepaling van miseiertelings voor EN na die behandeling so belangrik. Indien weerstand vermoed word nadat al die ander faktore hierbo genoem uitgeskakel is, word dit aanbeveel om ‘n METRED toets (miseiertellingreduksietoets) op die plaas uit te voer. Hierdeur kan bepaal word watter aktiewe nog effektief is. (Kontak u veearts of Virbac Tegniese verkoopsadviseur vir hulp in hierdie verband)

OPSOMMING

Gedurende die somer in die somerreënvalgebiede kan haarwurm ernstige gevolge hê. Haarwurm is 'n bloedsuigende parasiet wat produksie en fisiese verliese (vrektes) kan veroorsaak . Kwakkkeel ontwikkel weens 'n tekort aan bloedproteïene en die aansameling van vog. Die toestand moet onmiddellik behandel word! 

Voorkom groot verliese deur:

  • Gereelde miseiertellings gedurende die somer te doen om die graad van besmetting te bepaal.
  • Gebruik die FAMACHA-metode (weekliks in die piekwurmseisoen) om bloedarmoedige diere te identifiseer.
  • Behandel diere met tekens van kwakkeel of wat bloedarmoedig is (FAMACHA):
    • Dadelik met 'n kontakmiddel (bv. Prodose Red)
    • Herhaal bogenoemde na 10 dae indien simptome van kwakkeel nog steeds voorkom.
    • Volg op met ‘n sistemiese middel 10 dae later (bv.  Prodose Orange)
  • Neem mismonsters tydens EN weer 10 dae na behandeling van DIESELFDE diere om die effektiwiteit van die middel te bepaal.
  • Behandel ALLE diere KORREK (volgens massa, met goed onderhoude toerusting - meet die dosis vooraf, met die korrekte tegniek om vermorsing van produkte ens. te voorkom.
  • Indien weerstand vermoed word, voer 'n METRED toets uit om effektiewe aktiewe te bepaal.

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Produkte

Prodose® Orange

Read more

Prodose® Red

Read more

Prodose® Yellow LA

Read more