South Africa

Health Care

Score 0 (0 Votes)

Vrotpootjie en sweerklou in skape

Hierdie twee toestande word dikwels in een asem genoem en as een en dieselfde siekte gesien, maar is twee heeltemal verskillende siektes. Daar is ’n verskil in die ontstaan, voorkoming, behandeling en prognose van hierdie twee toestande. Beide het ’n groot uitwerking op die produksie, voortplanting en welsyn van skape. Onderskeid tussen die twee kan op die plaas gemaak word deur die volgende riglyne te gebruik: 

(Onthou, dis belangrik dat die skaap omgedop word om die kloutjies behoorlik te ondersoek.)

Vrotpootjie

  1. Is aansteeklik. Die kiem wat dit veroorsaak kan net in die kloutjie oorleef. In die grond oorleef dit nie meer as ’n paar dae nie. Hoe droër die toestande, hoe korter oorleef hulle.
  2. Kom dikwels as ’n uitbraak voor, met gewoonlik meer as een poot wat aangetas word.
  3. Langdurige nat weidingstoestande is die hoof- aanleidende oorsaak.
  4. Die poot is gewoonlik nie geswel of warm nie, maar het ’n swartgrys smetterigheid wat erg stink tussen die kloutjies.
  5. In gevorderde gevalle begin die sool en hoefwand loskom. Die hoefkroon word nie aangetas nie.

Sweerklou

  1. Die kiem wat dit veroorsaak kom in die grond voor, waar dit maande lank kan oorleef.  Hoe natter die toestande, hoe langer kan hulle oorleef.
  2. Sweerklou is meer geneig om sporadies enkele diere aan te tas en gewoonlik slegs een poot.  Indien die toestande gunstig is, kan klein uitbrake voorkom.
  3. Word dikwels met wonde aan die kloutjies geassosieer. Bosluise en harde, klipperige veld speel hier ’n rol. Langdurige nat toestande kan ook veroorsaak dat die kiem die sagte kloutjie nou makliker indring.
  4. Die aangetaste poot is gewoonlik warm, geswel en die kloutjies oopgesper.
  5. Namate die toestand vorder, is daar duidelike swelling by die hoefkroon, wat mag oopbars met ’n gelerige, redelik reuklose etter wat uitloop. Die aangetaste kloutjie is daarna permanent misvormd.

Voorkoming en behandeling:

Vrotpootjie

  1. Identifiseer die aanleidende oorsaak en probeer dit uitskakel.
  2. Identifiseer en isoleer aangetaste diere (dop om en kyk). 
  3.  “Skoon” diere se kloutjies word geknip indien nodig en vir 5 dae na mekaar met 10% sinksulfaat gevoetbad en in ’n droë kamp gesit. Die skape moet so lank moontlik (tot 1 uur lank) in die voetbad staan. Laat die pote droogword voordat die skape terug op die weiding gaan. Alternatiewelik kan ’n 5% formalienvoetbad op die gesondes gebruik word. Die skape hoef dan net deur die bad te loop. Herhaal die formalienvoetbad ná 7 dae. Gereelde gebruik maak ongelukkig die kloutjies hard en bros. Wissel dus af met sinksulfaat as voetbaddens gereeld gedoen moet word.
  4. Die geïsoleerde aangetaste diere se kloue word goed geknip indien nodig, behandel met ’n langwerkende tetrasiklien en vir 5 dae na mekaar deur ’n 10% sinksulfaatvoetbad gesit (moet weer eens so lank moontlik in voetbad staan – tot ’n uur lank). Ernstige gevalle mag ’n opvolg- antibiotiese behandeling benodig. Formalienvoetbaddens is geweldig pynlik in kliniese gevalle en sinksulfaat is dus hier verkieslik. Laat die pote weer eens droogword voordat die diere terug op die weiding gaan.
  5. Gereelde opvolgondersoeke moet gedoen word om die skape se toestand te monitor.
  6. Dit mag nodig wees om skape tydens gunstige omstandighede elke 10-14 dae deur die voetbad te sit.
  7. Die meeste skape wat behandel word, herstel. Hoe vroeër gevalle opgespoor word, hoe meer suksesvol is die behandeling.
  8. Indien vrotpootjie reeds op die plaas gediagnoseer is, is die tyd waar die grootste impak met voorkoming gemaak kan word die droë tyd van die jaar. Volg dan stappe 2-6.
  9. Spoorelemente het ’n positiewe uitwerking op diere se immuunstelsels. Sorg dus dat die skape se spoorelementvlakke optimaal is.
  10. Geen voorkoming of behandeling is ooit 100% suksesvol nie.  Goeie biosekuriteit is nodig om jou plaas vry van vrotpootjie te hou, bv. lyndraadinstandhouding en geen inkoop/huur/uitruil van besmette diere en die gebruik van besmette vervoer nie.

Sweerklou

  1. Identifiseer die aanleidende oorsaak en probeer dit uitskakel. Indien bosluise die probleem is, moet ’n doeltreffende middel teen bosluise as ’n voetbad gebruik word.
  2. Inspekteer en knip kloutjies gereeld.
  3. Aangesien die kiem in die grond oorleef, is voetbaddens nie altyd so effektief nie. ’n 5% formalienvoetbad mag die kloutjies effens verhard en so die indringing van die kiem belemmer. Dit kan ná 7 dae herhaal word. Herhaaldelike gebruik kan die kloutjies egter baie hard en bros maak. 
  4. Sorg dat die skape se spoorelementvlakke optimaal is.
  5. Omdat die kiem ’n absesagtige verswering veroorsaak, kom die antibiotika nie altyd by die infeksie uit nie, maar dit mag wel die hoeveelheid weefselskade beperk indien dit vroeg ontdek en gespuit word.
  6. Antiinflammatoriese pynstillers mag van waarde wees, aangesien die dier beter kan fuksioneer, verliese aan produksie en voortplanting beperk word en diere se welsyn verbeter.
  7. Dit kan tot 2 maande duur vir ’n skaap om te herstel, van hulle met ’n permanent misvormde klou.  Van die aangetastes sal dus geprul moet word.

Raadpleeg altyd jou plaaslike veearts vir die regte diagnose, behandeling en voorkomingsmetodes.

Bronne beskikbaar op versoek.

 

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Produkte

Oberdine Wound, Eye and Footrot Spray (Oberon Pharma)

Read more

Obermycin 125

Read more

Obermycin Foaming Pessaries (Oberon Pharma)

Read more

Terralon® LA

Read more