Shaping the future of animal health
South Africa

LEWERSLAK IN BEESTE EN SKAPE

Die parasiet, impak op die dier en die beheer

Corné Mostert

Lewerslak (Fasciolosis) is een van die algemeenste parasitiese siektes in die wêreld, insluitend Suid-Afrika. Dit is verantwoordelik vir groot ekonomiese verliese, soos lewers wat afgekeur word by die abattoir, afname in melk- en vleisproduksie (groei) en reproduksie, sekondêre bakteriële infeksies en selfs dood.

Die parasiet

Twee lewerslakspesies kom voor in Suid-Afrika, nl. gewone lewerslak (Fasciola hepatica) en reuse lewerslak (Fasciola gigantica). Die lewensiklus van lewerslak is kompleks en het verskeie stadiums van ontwikkeling binne en buite die vee. Lewerslakbevolkings word onderhou deur die teenwoordigheid van varswaterslakke wat as tussengashere dien. Nat en moerasagtige gebiede soos vleie, spruite en gronddamme is die ideale habitatte vir die oorlewing van die varswaterslak. Die water moet stadig beweeg of stilstaan.

Reënval help om die eiers, wat saam met diere se mis uitgeskei word, uit die mis te was en handhaaf ook die waterliggame waar slakke kan oorleef. Temperatuur speel ook 'n belangrike rol. Beide lewerslak en varswaterslakke floreer gedurende die warmer maande van die jaar. Eers wanneer die gemiddelde daaglikse temperatuur onder 10  ̊C daal, hou die eiers op uitbroei, neem die ontwikkeling van lewerslaklarwes binne-in die varswaterslakke af en raak die varswaterslakke onaktief. In die kouer gebiede kom die lewensiklus dus tot stilstand in die wintermaande. In die warmer gebiede waar die temperature matig is, kan die lewensiklus dwarsdeur die jaar voortgaan. Die lewerslakbesmetting sal dus ook dwarsdeur die jaar voortgaan en getalle sal verhoog.

Uitwerking op die dier

Lewerslak veroorsaak ernstige skade aan die diere vanaf die tyd wanneer  die metaserkaria (besmetlike stadium) ingeneem word totdat dit beheer word (of totdat die volwasse lewerslak vrek – wat tot 2 jaar kan neem). In beeste bereik ±25% van die metaserkaria wat ingeneem word die lewer in 2 weke tot 85 dae na inname. Die res migreer deur die liggaam en veroorsaak skade aan ander organe totdat hulle uiteindelik vrek.

liver fluke 1.pngliver fluke 2.png

liver fluke 3.pngliver fluke 4.png

 

Die lewer is een van die belangrikste organe wat by meer as 500 funksies in die dier se liggaam betrokke is. Die lewer kan as die “spens” én die “oond” van die dier beskou word. Indien die lewer nie ten volle funksioneel is nie as gevolg van lewerslakskade, word, onder andere, die volgende funksies nadelig beïnvloed:

 

  • Proteïen- en energiemetabolisme – raak groei en produksie.
  • Die vermoë van die lewer om galsoute te produseer (die voorloper van cholesterol en geslagshormone, asook nodig vir doeltreffende vertering in die laer spysverteringskanaal en omskakeling van karoteen na Vit A) – raak voortplanting en groei.
  • Die vermoë om spoorminerale te stoor – raak voortplanting en immuniteit.

Beheerstrategie

Effektiewe lewerslakbeheer kan ’n uitdaging wees. Beheer moet daarop gerig wees om die aantal parasiete in die gasheer te verminder en om die lewerslakbevolking in die omgewing te beperk. Effektiewe en volhoubare beheer word gebaseer op ’n geïntegreerde parasietbeheerprogram wat onder andere chemiese beheer binne die dier, weidingbestuur, afkamping van besmette areas (waar moontlik) en die herstel van lekkende krippe (wat die habitat van die tussengasheer verminder), insluit. Die chemiese beheer van varswaterslakke deur middel van die toediening van kopersulfaat is normaalweg onprakties en kan selfs gevaarlik vir die diere wees!

Tydsberekening van lewerslakbehandeling is een van twee sleutelfaktore vir effektiewe lewerslakbeheer. Dit word gebaseer op die volgende:

  • Genesende behandeling:

Herfs (April/Mei) – met die herfsbehandeling is dit noodsaaklik om vroeë-onvolwasse, onvolwasse en volwasse lewerslakke te beheer om lewerskade te verminder.

  • Voorkomende behandeling:

Laatwinter/Vroeglente (Aug./Sept.) – die behandeling is noodsaaklik om oorblywende lewerslakke te verwyder om herbesmetting van die weiding te verminder.

  • Opsionele behandeling:

Somer (Jan./Feb.) – in areas waar die lewerslakbesmetting baie hoog is, is hierdie behandeling nodig om optimale beheer te verseker.

beheer.png

Produkkeuse is die tweede sleutelfaktor in doeltreffende lewerslakbeheer. Gebruik Flukazole C een tot twee keer in die lewerslakbeheerprogram, veral in die areas waar lewerslakbesmetting hoog is.

flukazole c.png