Health Care

Score0 (0 Votes)

BESTUUR VAN VLEISBEES KALWERS: SPEENTYD - Algemeen

Artikel 7 van 7 in die reeks oor Speentyd

 

Die volgende is ‘n paar algemene opmerkings van belang by die speenproses:

 

Speenproses self

Die speenproses, maak nie saak watter metode gebruik word nie, plaas geweldige stres op die kalwers. Teen speentyd (±7mnde), is die bydrae van die koei se melk tot die kalf se voeding baie beperk, maar die band tussen die koei en die kalf is nog sterk. Lae-stres speentegnieke word ten sterkste aanbeveel en ondersteun goeie dierewelsyn en siektevoorkoming in pasgespeende kalwers, met gepaardgaande verlaging in die gebruik van antibiotika.Die gebruik van ‘n “2-stadium” speentegniek plaas die minste tres op die kalwers. 

Die stelsel wat heel waarskynlik die minste stres veroorsaak is die plasing van “speen neusringe” by die kalwers, terwyl hulle nog saam met die koeie loop. Die neusring maak dit moeilik vir die kalf om te suip, aangesien dit die koei “kielie” as die kalf probeer suip en sy dan nie stilstaan nie. Na ‘n paar dae sal die kalf dan ophou probeer en is die kalf dan gespeen. Neusringe moet ten minste 10 dae voor die beplande speendatum ingesit word en dan weer uitgehaal word op dag van speen. Alhoewel neusringe ‘n kostefaktor het, is dit herbruikbaar.  (Die tyd, arbeid, koste vs verminderde speenskok?)

Met die speentegniek waar kalwers en koeie geskei en in aangrensende kampe loop (met ‘n baie goeie heining tussenin) voordat hulle finaal geskei word, word speenskok ook verminder. Koeie en kalwers kan mekaar dus sien en ruik maar die kalwers kan nie suip nie. Die koeie en kalwers raak relatief vinnig daaraan gewoond en kan dan finaal geskei word.

 

Die speenproses wat die meeste stres op die kalf plaas, is waar die kalwers direk van die koeie af opgelaai en vervoer word na ‘n veiling, voerkraal of “backrounding” fasiliteit. 

Ander metodes soos: om die kalwers in ‘n (goeie) kraal te hou met kos en water totdat hulle ophou om na die koeie te soek (koeie moet verkieslik buite hoorafstand van kalwers geneem word); die “omruil” van koeie en kalwers van verskillende troppe (troppe moet nie binne hoorafstand van mekaar wees nie!); of watter metode ookal die mees praktiese vir die spesifieke omstandighede is, kan ook gebruik word.

Maak nie saak watter metode gebruik word nie, beplan vroegtydig om alles gereed te hê om die speenproses so glad moontlik te laat verloop.

 

Seleksie van vervangingsverse

Dit is belangrik om voor die bemarkingsdag aanbreek, die verse wat terug gehou wil word vir vervanging te selekteer. Onthou, indien seleksiedruk geplaas word op vrugbaarheid, behoort verse eerstens geselekteer te word van koeie wat self vroeg in die kalfseisoen gekalf het - sonder dat hierdie koeie die vorige kalfseisoen oorgeslaan het!! Indien moontlik, hou ook bietjie meer verse terug as wat benodig word om selekiedruk op vrugbaarheid met eerste dekking te kan toepas.

 

Merk van kalwers

Volgens wet, moet kalwers teen 6 maande ouderdom gebrandmerk (of getatoeër) wees. Hierdie aksie kan ook met van die ander aksies soos inenting en spoormineraalaanvulling gekombineer word om hantering te verminder.

 

 

Die artikels in die “bestuur” reeks, het slegs slegs ten doel om die belangrikste aspekte van die produksiestadium onder bespreking tuis te bring. Indien meer indiepte inligting oor ‘n spesifieke aspek bekom wil word, kyk gerus of daar onder “verwante” artikels ander artikels beskikbaar is. 

 

6009230315DVN

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?