Health Care

Score5 (1 Votes)

Spoorminerale Fokus op Kalwers, Speentyd en die Vervangingsvers

Kalwers is die diere op die plaas met die hoogste genetiese- en groeipotensiaal, maar ook die diere met die hoogste voedingsvereistes en minder weerstand teen parasiete, siektes en stress. 

Met speentyd wat voorlê, is dit belangrik dat kalwers se spoormineraalstatus optimaal is om speenskok en die moontlike gepaardgaande nadelige gevolge daarvan beter te kan hanteer. Vervangingsverse is die volgende generasie teelmateriaal op die plaas en verdien spesiale aandag.

Hier volg ‘n paar gedagtes om die belangrikheid van optimale spoormineraalstatus te illustreer, faktore wat dit beïnvloed en hoe om dit te bereik:

1. Oksidatiewe stres

‘n Relatiewe nuwe gonswoord in dieregesondheid is “Reaktiewe-suurstofspesies”. Kortliks word daarna verwys word as “ROS” (reactive oxygen species). Die teenwoordigheid van ROS lei na ‘n toestand wat bekend staan as “Oksidatiewe Stres”. Dit is ‘n normale proses wat plaasvind gedurende selmetabolisme in die teenwoordigheid van suurstof. ROS lei tot die vorming van sogenaamde vry-radikale (free radicals), wat verhoog na bonormale vlakke gedurende siektetoestande en wanneer diere stres ervaar. Hierdie vry-radikale kan lei tot die afsterf van liggaamsselle, weefselskade, die ontstaan van kwaadaardige selle en selfs siektetoestande¹.

Toestande wat verhoogde selmetabolisme tot gevolg het soos infeksies, kalwing, droogte- en hittestres, embrio- en fetusontwikkeling, kan almal lei tot verhoogde risiko van oksidatiewe stress en ‘n verlies aan produktiwiteit².

Oksidatiewe stres vind nie net by jong diere plaas nie en alle diere kan aan die negatiewe gevolge daarvan blootgestel word.

2. Die rol van Anti-oksidante

Anti-oksidante is die liggaam se natuurlike verdedigingsmeganisme om die effek van oksidatiewe stres en die vorming van vry-radikale te voorkom of te verminder³. Beide ensiematiese anti-oksidante en nie-ensiematiese anti-oksidante is nodig om ROS en die vorming van vry-radikale binne perke te hou.

2.1 Ensiematiese anti-oksidante:

Spoorminerale is belangrik in die werking van ensiematiese anti-oksidante. Koper, Mangaan en Sink is almal geïdentifiseer as ko-faktore benodig om die verskillende Superoksied-dismutases (ensieme), te laat funksioneer. Selenium is weer kardinaal as ko-faktor in die vorming van die sogenaamde seleno-ensieme, waarvan glutatioon-peroksidase die belangrikste is⁴.

2.2 Nie-ensiematiese anti-oksidante:

Vitamien E en ook karoteen (Vit A), speel ‘n belangrike rol as nie-ensiematiese anti-oksidante. Die vitamiene is veral belangrik om onderskeidelik die werking van selenium en sink te ondersteun. Daarom word dit algemeen aanbeveel om Vit A & E saam met spoormineraalaanvulling toe te dien.

3. Spoorminerale in kalwers

Navorsing wys, dat al het kalwers met geboorte ‘n goeie spoormineraalstutus, dit na geboorte drasties daal as gevolg van kalwers se vinnige groei en die feit dat melk, in die algemeen, ‘n swak bron van spoorminerale is.  In die figuur hieronder kan gesien word hoe die koper- en sinkvlakke in kalwers na geboorte daal, om teen 56 dae na geboorte sub-optimale vlakke te bereik⁵. 

 

 Dit is ook teen hierdie tyd dat die kalf se passiewe-immuniteit, wat deur middel van die biesmelk van die koei na die kalf oorgedra word, begin afneem.  Dit word in die praktyk waargeneem deur die verhoogde voorkoms van diarree en ander siektes vanaf 2 tot 3 maande ouderdom.

3.1 Tekens van akute spoormineraaltekorte:

  • ‘n growwe en “afkleur” haarkleed,
  • kort of lang onderkake,
  • ander beenstruktuur gebreke,
  • swak eetlus,
  • vertraagde groei,
  • verkorte ligamente

Teen die tyd dat ‘n akute spoormineraaltekort geïdentifiseer word, is daar egter alreeds baie “onsigbare” skade in terme van verlaagde groei en verhoogde vatbaarheid vir siektes.  Dit is dus nie raadsaam om eers te wag totdat akute tekortsimptome voorkom, voordat ‘n plan gemaak word nie. 

3.2 Subkliniese tekorte:  

Word oor die algemeen of nie waargeneem nie, of verkeerd gediagnoseer.  Dit kan ook as ‘n “erosiesiekte” beskou word wat elke dag die boer se geld “steel”. Kalwers groei nie optimaal nie, raak makliker siek, behandelingskostes verhoog, meer kalwers vrek voor speenouderdom en swak reaksie op inentings lei tot meer kwesbare diere. 

Spoormineraalaanvulling vroeg in die kalf se lewe, kan baie help om die spoormineraalvlakke te optimeer en seker te maak dat kalwers se immuniteitstatus⁶ (figuur hieronder) en groei ondersteun word. 

Serum.jpg

4. Aanvulling van spoorminerale

Dit is van uiterste belang dat aanvulling op ‘n manier geskied wat akkuraat en effektief is. Kalwers onder drie maande ouderdom is grootliks van die koei se melk afhanklik en soos reeds genoem, is melk oor die algemeen ‘n swak bron van spoorminerale. 

4.1 Orale aanvulling:

Alhoewel dit die maklikste en goedkoopste is, is dit baie keer nie so effektief nie. Jong kalwers neem nie noemenswaardige hoeveelhede lek in nie. Indien hulle wel later spoorminerale dmv lekke sou inneem, speel antagoniste soos bv. hoë vlakke van kalsium (Ca), Yster (Fe) en Swael (S), ‘n baie negatiewe rol wat die opneembaarheid van orale spoorminerale beperk.

4.2 Inspuitbare spoormineraalaanvulling:

Het die voordeel dat dit nie geaffekteer word deur antagoniste nie. Dit kan ook teen ‘n meer akkurate dosis aangevul word as bv. orale aanvullings waarvan die inname geweldig baie kan wissel. 

‘n Inspuitbare spoorelementpreperaat behoort aan die volgende vereistes te voldoen om maksimum effektiwiteit te verseker:

  • dit behoort spoorminerale in ‘n gebalanseerde verhouding aan te vul
  • dit behoort genoegsame vlakke van spoorminerale te bevat om werklik ‘n verskil te kan maak,
  • dit behoort in ‘n weefselvriendelike formulasie te wees
  • dit behoort in ‘n hoogs biobeskikbare formulasie te wees wat maksimum opname verseker
  • dit behoort vining in die bloedstroom opgeneem word en goed in die stoororgane (hoofsaaklik die lewer) gestoor en weer vrygestel word vir latere gebruik

Koper en Selenium speel  veral ‘n baie belangrike rol by immuniteit en die ontwikkeling daarvan.  Kalwers wat se koper- en seleniumstatus optimaal is, sal onder andere, optimale immuunreaksie toon wanneer die eerste inentings op ongeveer 4-5 maande ouderdom plaasvind. 

5. Aanbevole aanvullingsprogram: Suip- & speenkalwers asook vervangingsverse

In vleisbeeskuddes word spoormineraalaanvulling deur middel van Multimin® aan kalwers en vervangingsverse as volg aanbeveel:

  • Opsioneel: week 1 na geboorte – veral indien akute tekortsimptome of vroeë diarree voorkom,
  • Aanbeveel: twee tot drie maande ouderdom – tydens  onthoring en ontwurming om uitgeputte lewerreserwes aan te vul om optimale groei en ontwikkeling van immuniteit na inentings aan te help,
  • Essensieël: 4 weke voorspeen (of met speen indien indien voorspeen nie prakties is nie) – om seker te maak dat spoormineraalstatus optimaal is om speenskok te verminder en immuniteit te stimuleer, 
  • Aanbeveel: vervangingsverse - elke 4 maande naspeens tot en met eerste paring om optimale groei en ontwikkeling te verseker.

Kontak gerus u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur vir spesifieke aanbeveling aangaande die korrekte dosis en produk te gebruik.

 

Verwysings:

¹Lykkesfeldt J, Svendsen O (2007). Oxidants and antioxidants in disease: Oxidative stress in farm animals. Veterinary Journal 173, 502-511.

²Bernabucci U, Ronchi B, Lacetera N, Nardone A (2005). Influence of body condition score on relationships between metabolic status and oxidative stress in periparturient dairy cows. Journal of Diary Science 88, 2017-2026.

³Halliwell B (2007). Biochemistry of oxidative stress. Biochemical Society Transactions 35, 1147-1150.

⁴Michiels C, Raes M, Toussaint O, Remacle J (1994). Importance of SE-glutathione peroxidase, catalase and CU/ZN-SOD for cell survival against oxidative stress. Free Radical Biology and medicine 17, 235-248.

⁵ Branum, Jay Christopher (1999). “Impact of Prenatal Dietary Copper Level on Copper status.” Submitted to the office of graduate studies of Texas A&M University. May 1999.

⁶ Arthington J, Havenga L (2012). Effect of injectable trace minerals on the humoral immune response to multivalent vaccine administration in beef calves. Journal of Animal Science 90, 1966-1971.

 

 

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1