Health Care

Score0 (0 Votes)

Basiese oorsig van Longontsteking in vee

Dr. H Ferreira

In die koue maande van die jaar het veeprodusente groot uitdagings. Om jou vee warm, gemaklik, goed gevoed en gesond te hou, vereis beplanning en voorsorg. Veral longontsteking kom juis in die maande voor.

 

 

In die oorgangsmaande, soos herfs na winter en winter na lente, word ‘n toename in longontsteking gesien, maar dit kom ook dwarsdeur die jaar in Suid-Afrika voor. Indien die dag en die nag temperatuur met meer as 10 tot >20 grade celsius begin verskil is die risiko vir longontsteking groter. 

Wanneer die eerste geval van longontsteking onder veldtoestande op ‘n plaas of gebied voorkom, moet waarneming vir siek diere verskerp word omdat dit ‘n aanduiding is dat die omgewingstoestande nou gunstig is vir die voorkoms van siekte.

Daar is faktore wat die dier se vermoë om weerstand teen die ontwikkeling van siekte te bied, kan onderdruk. Dit sluit in stres, dit verminder die dier se normale witbloedsel werking; voedingstekorte, veral protein, vitamien en mineraaltekorte, stof en koue.

Namate dit droër en kouer word, is daar meer stof wat die slymvliese kan irriteer en die werking daarvan beïnvloed. Die slymvliese moet die organismes wat siektes veroorsaak uit die longe hou. Slymvliesgesondheid is daarom kardinaal om die respiratoriese sisteem siektevry te hou. 

 

 

Voorkoming en behandeling

Vitamien A aanvulling in die droë maande, wanneer groen gras nie volop is nie is belangrik. Nuwe studies het aangedui dat Vitamien A selfs aangevul moet  word om goeie opname te verseker, ongeag van die groen gras en beta-karoteen teenwoordig. Vitamien A hou slymvliese gesond.

Sink en selenium speel ‘n kritiese rol in die funksionering van die immuunsisteem. Maak seker jou diere het nie ‘n tekort nie. Gebruik produkte soos beskikbaar in die Multimin of Optilumen reeks of soortgelyk om tekorte aan te vul.

Inenting met ‘n effektiewe entstof wat die geinaktiveerde toksien (leukotoksien) wat deur die belangrikste bakterie uitgeskei word bevat, is belangrik. Die leukotoksien onderdruk die immuunsisteem en dus weerstand teen die siekte, omdat dit die witbloedselle vernietig. Dit veroorsaak inflammasie wat die meeste longskade veroorsaak. 

Gee inentings betyds, aan die begin van die winter sodat die  immuunstelsel van die dier geheraktiveer kan word sodat daar hoë vlakke van teenliggaampies in die bloed sirkuleer.

Inenting kan nie die siekte totaal voorkom nie maar dit lewer ‘n groot bydrae om weerstand te verhoog en om longskade te beperk.

Daar is verskeie entings beskikbaar. Bespreek met jou veearts wat die beste produk vir jou kudde sal wees. Jou kudde veearts kan tydens ‘n na-doodse ondersoek monsters na ‘n laboratorium toe wegstuur om die korrekte entstof en antibiotikum te gebruik. 

 

Vroeë behandeling met ‘n antibiotikum is krities. Daarom moet siek diere betyds identifiseer word. Kyk uit vir vroeë siektetekens soos ore en koppe wat hang, diere wat stadiger beweeg en nie eet nie. Neem hierdie diere se temperatuur en indien daar ‘n koorsreaksie is, is behandeling noodsaaklik. 

 

Die keuse van antibiotikum is belangrik. Daar is antibiotikums wat oor die toonbank beskikbaar is soos tetrasikliene (Terralon LA (G2676, Act 36/1947)) en sulfonamied (Sulmetrim Plus (G3636, Act 36/1947)). Hierdie middels kan die groei van die bakterië onderdruk. 

Dit mag nodig wees om ‘n antibiotika te gebruik wat slegs per voorskrif vanaf jou veearts beskikbaar is. Kontak dus jou veearts sodra jy longonsteking vermoed in jou kudde.

Anti-inflammatoriese middels kan ook gebruik word en sal deur jou veearts voorgeskryf word om koors en inflammasie te verminder. Na toediening herstel siek diere vinniger en longskade word verminder.

 

Longontsteking is ‘n komplekse siekte. Die korrekte bestuur van aanleidende faktore is belangrik, maar so ook die gebruik van entstowwe omdat dit ‘n groot rol speel  in die verhoging van die dier se spesifieke weerstand teen die siekte. Vroee waarneming van sieketekens en konsultasie met jou kuddeveearts om ‘n geskikte behandelingsplan saam te stel sal verseker dat jou kudde die korrekte behandeling betyds ontvang. 


  


60092307HF

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

VERWANTE PRODUKTE

Terralon® LA

Read more

Sulmetrim Plus NF

Read more

Multimin® + Se + Cu + Cr Cattle

Read more

Pro-Vit A

Read more