Health Care

Score4.7 (3 Votes)

Diarree in jong kalwers

Diarree of buikloop by kalwers kan ’n belangrike oorsaak van swak groei en vrektes wees.

Healthy Calve

Die voorkoms en hewigheid van ’n siekte hang in ’n groot mate af van die vlak van biesmelkbeskerming wat die kalf ontvang in die eerste ses lewensure. Dit word in die algemeen aanbeveel dat kalwers drie liter biesmelk ontvang in die eerste twee ure ná geboorte.

Indien kalfdiarree, gewrigsontsteking, meningitis en septisemie ’n probleem onder jong kalwers op jou plaas geword het, sal dit die moeite werd wees om hulle immuniteitstatus te laat toets deur ’n eenvoudige en goedkoop bloedtoets deur jou veearts te laat doen, wat die totale konsentrasie plasmaproteïen bepaal.

Die vernaamste oorsake van kalfdiarree is virusse soos die rota- en coronavirusse en die infeksies wat deur Salmonella-spesies (soos Salmonella dublin en Salmonella typhimurium) veroorsaak word. E. Coli kan ook ’n groot probleem wees. Kriptosporidiose in voorspeense melkkalwers en jong vleisbeeskalwers kom ook meer algemeen voor. 

Diagnose:

Die konsistensie, kleur, reuk, tydsverloop na geboorte ens. van die diarree, kan aanduidend wees van die oorsaak daarvan maar is nie in alle gevalle spesifiek nie. Vir ’n akkurate diagnose, raadpleeg asseblief jou veearts. Indien ‘n 

Behandeling:

  1. Vloeistofterapie is die doeltreffendste behandelingstrategie. Voorkom ontwatering deur ‘n elektrolietaanvulling te gee soos voorgeskryf. 
  2. Inspuitbare antibiotika behoort gebruik te word om gepaardgaande infeksies te beheer, bv. naelstringsiekte en kalfwitseerkeel.
  3. Soos met alle dieresiektes is voorkoming die beste. ’n Doeltreffende gesondheidsplan vir die hele kudde is noodsaaklik om die diere se gesondheid te verseker en siektes die hoof te bied.
  4. Inentings is beskikbaar teen die vernaamste aansteeklike oorsake van kalfdiarree, maar ’n voorkomingsstrategie sal slegs werk as die kalwers voldoende hoeveelhede goeie gehalte biesmelk in die eerste paar lewensure ingekry het om die kalf se immuunsisteem te aktiveer.

Rotavirus-infeksie

Rotavirus-infeksie is ’n algemene oorsaak van diarree in jong kalwers. Die kalwers is meer vatbaar wanneer hulle tussen agt en 14 dae oud is. Daar sal ’n akute aanvang van diarree wees wat baie waterig en geel/groen van kleur is. Die infeksie kon sy oorpsprong gehad het in die kalwers se hokke, waarna dit onder die jong kalwers versprei deur direkte kontak. Tipiese vroeë tekens sluit in onwilligheid om te staan en te drink, matige depressie en speekselafskeiding. Die kalf raak ontwater met gesonke oë en stywe, onelastiese vel. Kort daarna raak die kalf onaktief.

Kalwers met diarree moet afgesonder word in ’n droë, sagte hok. Een tot twee liter orale elektrolietoplosiing moet toegedien word, vier tot agt keer per dag. Binneaarse vloeistowwe wat deur ’n veearts toegedien word is noodsaaklik in die geval van ontwaterde kalwers wat nie sonder hulp regop kan bly nie.

Inspuitbare antibiotika moet gebruik word om gepaardgaande infeksies te beheer, soos naelstringsiekte en witseerkeel. Die terugkeer na ’n melkdieet moet volkome wees en die melk moet nie verdun word met ’n elektrolietoplossing nie. Melk en ’n elektrolietoplossing moet elke vier uur met mekaar afgewissel word.

Jaarlikse inenting van die moeder met ’n gekombineerde inenting teen rotavirus, coronavirus en K99 sal help om die siektes te voorkom in sogende kalwers in die eerste twee weke van hulle lewens.

Omdat die kalwers se beskerming afhanklik is van die fisiese teenwoordigheid van verkreë teenliggaampies in die dermkanaal, moet hulle voldoende biesmelk kry van hulle moeders. Optimale resultate kan verkry word deur ’n volledige inentingsbeleid vir die hele kudde koeie daar te stel. Dit sal verseker dat die vlak van infeksie en gevolglike virusuitskeiding tot ’n minimum beperk kan word. Sodoende sal die omvang van die algehele siekte-uitdaging op die plaas beperk word.

Coronavirus-diarree

Uitbrake van coronavirus-diarree onder kalwers is soortgelyk aan of erger as die uitbrake wat veroorsaak word deur rotavirus-infeksie. Gelukkig is coronavirus-infeksie baie meer seldsaam as rotavirus.

Die behandeling en voorkoming van coronavirus-infeksie is dieselfde as hierbo vir rotavirus.

Enterotoksigeniese E. coli

By kalwers word hierdie term gebruik om te verwys na stamme van die bakterium E. coli wat die K99-antigeen bevat. Onlangse opnames het getoon dat die voorkoms van K99-E. coli laag is in melkkuddes. Die siekte affekteer tipies kalwers wat een tot drie dae oud is met ’n skielike aanvang van hewige geel/wit diarree wat vinnige en ernstige ontwatering tot gevolg het. Die kalf word vinnig traag. Die opbou van vloeistof in die melkpens en ingewande gee die abdomen ’n opgeblaasde voorkoms. Siekte volg gewoonlik sodra die kudde besmet geraak het en dan raak die omgewing waar die koeie kalf ook besmet – en dus die pasgebore kalwers ook.

Voorkoming van enterotoksigeniese E. coli-infeksie is soos met rotavirus en coronavirus en behels die gebruik van ’n gekombineerde inenting wat die oordrag van passiewe teenliggaampies in die biesmelk verseker.

Kriptosporidiose

Kriptosporidiose is nie ’n groot probleem onder melkkalwers wat afsonderlik van mekaar gehou word nie, maar infeksie kan vinnig versprei in groephokke waar outomatiese voermasjiene gebruik word en waar nuwe pasgebore kalwers die heeltyd by die groep gevoeg word.

Diarree word veroorsaak deur die fisiese verlies aan absorberende oppervlak in die dunderm en vererger die virale infeksies wat hierbo beskryf word. Daar is hewige geel/groen diarree wat baie slym bevat. Ontwatering is matig, maar die kalf se kondisie verswak vinnig oor ’n periode van twee tot vyf dae en dit het ’n kroeserige en inmekaargetrekte voorkoms. Morbiditeit is hoog en die vrektesyfer is normaalweg ook hoog as gevolg van sekondêre infeksies soos met E. coli.

In ongekompliseerde gevalle, verseker dat die kalf behoorlik gehidreer word en gebruik orale elektrolietoplossings soos nodig. Daar is huidiglik nie ‘n produk in SA geregistreer vir gebruik vir behandeling nie. Kontak asb jou naaste veearts vir ‘n behandelingsprotokol. Kriptosporidiose is ’n soönotiese siekte (kan mense beïnvloed).

Voorkom of verminder die voorkoms van kriptosporidiose deur higiene op te knap, veral onder intensiewe toestande. Optimaliseer kalwers se immuniteit deur te verseker dat hulle voldoende, goeie kwaliteit biesmelk na direk na geboorte inneem.

Salmonella

Salmonella-spesies soos Salmonella dublin en Salmonella typhimurium kan hewige diarree veroorsaak met bloed en slym daarin en kan tot die dier se dood lei, maar Salmonella-infeksies veroorsaak normaalweg gewrig- en beeninfeksies by jong kalwers, of ernstige longontsteking wat baie moelik kan wees om te behandel. Die identifisering van Salmonella-infeksies noodsaak ’n breedvoerige ondersoek deur ’n veearts.

Die voorkoming en beheer van kalfsiektes wat deur Salmonella-spesies veroorsaak word kan gedoen word deur die toepaslike inentings te doen deur die oordrag van beskermende teenliggaampies deur biesmelk.

sulmetrim.jpg

Klik hier vir meer inligting oor Sulmetrim Plus NF

 

Tree in verbinding met jou Virbac Tegniese Raadgewer vir aanbevelings van produkte vir jou plaasbehoeftes.

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Produkte

Obermycin™ 125

Read more

Sulmetrim Plus NF

Read more

Terralon® LA

Read more