Melkkoors in koeie is `n toestand wat hoofsaaklik in melkkoeie gesien word net na kalwing en minder gereeld, net voor kalwing. Dit word veroorsaak deur `n tydelike tekort aan kalsium in die bloedstroom as gevolg van `n groter aanvraag vir kalsium deur haar liggaam tydens hierdie periode. Dit kan lei na moeilike kalwings, stilgebore kallers en selfs die dood van die koei. Die toestand moet onmiddellike aandag kry. Tussen 3-5% van melkkoeie kan in die periode rondom kalwing aan hierdie toestand ly. Melkkoors is egter voorkombaar deur die rantsoen aan te pas gedurende die droë periode om optimale kalsium vlakke in die bloed te verseker.
Oorsaak
Die meeste melkkoors gevalle word opgemerk binne 24 uur na kalwing omdat daar `n groot aanvraag na kalsium deur die dier is om te voorsien aan kolostrum- en melkproduksie wat dan plaasvind. Indien die koei nie die bloed-kalsium gou genoeg kan aanvul deur kalsium reserwes uit haar gebeente te mobiliseer nie, ontstaan toestande wat gunstig is vir die ontwikkelling van melkkoors. Koeie wat veral vatbaar is vir melkkoors sluit in: Ou koeie wat nie kalsium behoorlik kan absorbeer nie, koeie waarvan die dieët te hoog is in kalsium (dit veroorsaak dat die dier se liggaam ophou om kalsium uit die gebeente te onttrek), koeie waarvan die dieët nie genoeg kalsium bevat nie (primêre kalsium tekort), diere wat ly aan `n vitamien D tekort (skaars in SA as gevolg van baie sonskyn) en diere wat relatiewe alkalise spysverteringstelsels het (veroorsaak deur byvoorbeeld rantsoene wat hoog is in kalium). Koeie het verteringstelsels meer aan die suur kant nodig om optimaal kalsium te absorbeer.
Simptome
Melkkoors in koeie kan opgemerk word deur te let op die volgende simptome, veral as die simptome rondom kalwing getoon word:
Behandeling
Ontbied `n veearts om kalsium binne-aars toe te dien. Indien kalsium te vining gegee word, of te veel daarvan word gegee, kan die koei aan hart-arritmie vrek. Tydens die winter moet die oplossing tot liggaams-temperatuur verwarm word voor toediening. Indien `n veearts nie beskikbaar is nie, dien die bottel kalsium onderhuids toe op verskeie plekke. Moenie meer as 50 ml per plek toedien nie. Indien die koei nie opstaan nie, draai haar elke 2 uur van kant tot kant om te verhoed dat sy die spiere aan die een kant van haar liggaam dood lê. Soms is dit nodig om die bene te masseer deur die bene te “pomp” en om die kalf tydelik van die koei te verwyder.
Voorkoming
Monitor die diere se voer en toets die minerale inhoud van die voer. Dis aan te beveel dat `n deskundige op die gebied van melkkoei voeding geraadpleeg word om die regte balans van minerale vir die koeie te bewerkstellig. Stowwe soos anioniese soute en/of vitamien D kan bygevoeg word om die absorpsie van kalsium uit die spysverteringstelsel te verhoog. Anioniese soute word veral in hoë produserende kuddes gebruik (gedurende die opstoom-periode) om die rumen effens aan te suur sodat kalsium meer doeltreffend absorbeer word. Vermy voere hoog in kalsium (soos lusern) tydens die droë periode. Indien sommige koeie `n geskiedenis van melkkoors het, kan hulle net voor en net na kalwing met kalsium gespuit word.
Kontak ons gerus vir meer inligting oor ons byvoegsels en melkkoors behandelings.