Health Care

Score3 (3 Votes)

BESTUUR VAN VLEISBEESKOEIE VOOR KALWING: Voeding en Kondisietelling

Artikel 2 van 7 oor hierdie onderwerp

Die laaste twee maande voor kalwing is seker een van die belangrikste periodes in die produksiesiklus om sukses te verseker. 

Dit het nie net ‘n invloed op die suksesvolle geboorte van ‘n kalf met ‘n sterk oorlewingsvermoë nie, maar ook wat met die kalf en die koei gebeur na afloop van die geboorteproses, tot die sukses van die komende dekseisoen en selfs tot en met speentyd. Die volgende aspekte behoort aandag te geniet:

VOEDING & KONDISIETELLING

Dit is algemeen bekend dat koeie in ‘n aanvaarbare kondisietelling moet kalf, aangesien dit so ‘n groot effek het op vele aspekte wat produksie, reproduksie en uiteindelik die winsgewendheid beïnvloed. ‘n Kondisiepunt van 3.5 met kalwing word algemeen as ideaal beskou (Sien foto’s).


Dit is belangrik om vroegtydig met ekstra aanvulling te begin indien koeie se kondisie nie na wense is nie, aangesien kondisie nie oornag reg gevoer kan word nie! Begin dus eerder vroeër as later om die kondisie van koeie te verbeter. Baie belangrik - moet nie dat die lang winterhare jou flous en die kondisie oorskat nie!

Die voeding/kondisie van die koeie voor/tydens kalwing is om die volgende redes van kardinale belang:

  • Ontwikkeling van die ongebore kalf:
    Ons weet dat die meeste fetusgroei (+-75%) in die laaste twee maande van dragtigheid plaasvind. Die voeding van die koei in hierdie tyd moet instaat wees om die ongebore kalf ten volle te laat ontwikkel EN die kondisie van die koei te onderhou of te laat toeneem. Dit sal die oorlewingsvermoë (lewenskragtigheid) van die kalf bevoordeel - veral tydens ongure weersomstandighede tydens geboorte. 

    Alhoewel nie ‘n algemene probleem nie, kan oorvoeding gedurende hierdie tyd  nadelig wees. Dit kan daartoe lei dat die geboortemassa van die kalwers sodanig  toeneem, dat probleme met moeilike geboortes kan voorkom.
     
  • Invloed op die aantal dae tot eerste hitte na kalwing, herkonsepsie en interkalfpriode:
    Koeie moet teen kalwing in die ideale kondisie wees om die aantal “oop dae” tussen kalf en konsepsie te verminder en om ’n goeie herkonsepsie te verseker. Sien in Tabel 1 wat die effek van kondisietelling met kalwing is op die tyd wat die koeie “onvrugbaar” is - maw voor hulle in siklus kom. Hoe vroeër koeie in siklus kom en suksesvol bevrug raak, hoe beter (korter) is hulle interkalfperiode.

    Tabel 1: Invloed van kondisietelling met kalf op aantal “onvrugbare” dae na kalwing (Kunkle et al, 1998)
  • Invloed op uierontwikkeling, bieskwaliteit en melkproduksie:
    Voeding in laatdragtigheid het ‘n direkte invloed op uierontwikkeling. Uierontwikkeling het weer ‘n invloed op biesmelkproduksie (kwantiteit en kwaliteit), asook melkproduksie tydens laktasie. NB. Al drie hierdie aspekte kan nie deur goeie voedingsomstandighede na afloop van kalwing reggestel word nie!

    Tabel 2: Invloed van kondisie met kalwing, op die kwaliteit van bies - soos gemeet in die serum van kalwers, 24 uur na geboorte (Odde, 1992)



    Die hoeveelheid en kwaliteit van die bies kan ‘n deurslaggewende rol speel in kalfoorlewing na geboorte. Kalwers moet genoeg biesmelk inkry om hulle van belangrike voedingstowwe te voorsien. Daarby moet die kwaliteit van so aard wees dat die kalwers genoeg teenliggame inneem om hul immuunstelsel aan die gang te kry en kalfoorlewing te verbeter. 

    Met ‘n goed ontwikkelde uier en met die regte kondisie (voeding), sal die koei instaat wees om maksimum melk te produseer. Kalwers is in die eerste twee maande uitsluitlik van die koei se melk afhanklik voordat hulle inname van weiding betekenisvol raak. In hierdie tyd is hulle voeromsetverhouding ook die beste (1:1 tot 2:1), en ‘n optimale groeitempo in hierdie vroeë stadium kan ‘n positiewe invloed op speenmassa hê. (Tabel 3).

    Tabel 3. Invloed van kondisietelling met kalf op 240 dae speenmassa  (Houghton et al, 1990)

    KT  @ KALWING

    240 DAE SPEENMASSA (kg)

    2

    170

    2.5

    209

    3

    234

    3.5

    234

Met al bogenoemde in gedagte, moet koeie wat 8 weke voor die kalfseisoen ‘n kondisiepunt van 3 tot 2.5 of minder het, se voeding drasties aangepas word - veral indien daar nog nie goeie weidingstoestande heers (kwaliteit en kwantiteit), of vooruitsigte daarvoor is nie . Die voorsiening van goeie kwaliteit hooi/kuilvoer en/of ‘n produksielek kan help om die kondisie te verbeter. 

 

6009230802DVN

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

VERWANTE PRODUKTE

Browse Plus®

Read more