Health Care

Score5 (1 Votes)

SKAAPBESTUUR VOOR-LAM: Inenting

Artikel 3 van 6 oor hierdie onderwerp

“CONCEPTION TO CONSUMPTION” - 'N PROGRAMBENADERING

Goeie immuniteit is een van die belangrikste pilare van goeie gesondheidsorg. Laatdragtige ooie se immuunstelsel is onder geweldige druk en moet ondersteun word. Die enting van ooie in laatdragtigheid (4-6 weke voor lam), is nie net vir die ooi van belang nie, maar ook om lammers na geboorte te beskerm teen sekere siektetoestande.

Die pasgebore lam word sonder immuniteit gebore en is totaal afhanklik van goeie kwaliteit bies, hoog in teenliggame, om sy immuunsisteem in rat te sit. Goeie voeding van die ooi en ‘n toepaslike entpogram in laatdragtigheid, sal bieskwaliteit en die oordrag van beskermende teenliggame na die lam optimaliseer.

 

Die volgende is normaalweg die siektetoestande waarvoor beskerming verleen moet word:

 

  • Essensiële entstowwe

Bloednier - met ‘n toename in goeie kwaliteit voeding in laatdragtigheid en ‘n immuunsisteem wat onder druk is, is dit noodsaaklik dat ooie se immuniteit teen bloednier (Clostridium perfringens) geoptimaliseer word dmv tydige enting. Verskeie bloednier entstowwe en klostridium kombinasie-entstowwe is beskikbaar. 

Kombinasie entstowwe word oor die algemeen aanbeveel vir die enting in laatdragtigheid, aangesien dit voordelig is om ook die lammers in die eerste paar weke na geboorte teen ‘n verskeidenheid klostridium verwante siektes te beskerm. Hierdie beskerming word deur goeie kwaliteit biesmelk aan die lammers oorgedra. 

Sommige kombinasie-entstowwe bevat benewens die dekking teen verskeie klostridiumverwante siektes, ook antigene vir beskerming teen longsiektes (Mannheimia haemolitica / Pasteurella multocida / Bibersteinia trehalosi). 

Pasteurella - wat in die algemene spreektaal as “longontsteking” of “bontlong” bekend staan. Groot variasie in dag/nag temperature, stowwerige omgewings, ongure weersomstandighede en intensiewe toestande verhoog die kanse op longverwante siektes by ooie en lammers. Lammers wat in die herfs en in die winter/vroeëlente aankom is veral kwesbaar. Kombinasie-entstowwe (soos hierbo genoem) kan gebruik word of aparte entstowwe kan toegedien word.

Deur ooie in laatdragtigheid te ent, kan die kwaliteit van bies verhoog word en na die lam oorgedra word dmv die bies. Dit sal die lam in die eerste paar weke na geboorte beskerming verleen. 

 

  • Opsionele entstowwe

Opsionele entstowwe word in ‘n laatdragtige program ingesluit wanneer daar spesifieke siekte uitdagings voorkom bv.

E. coli  - wanneer diaree by lammers ‘n groot probleem, is kan ooie voorlam geënt word om beter beskerming aan die lammers te gee. E coli bestaan uit baie stamme. Die identifisering van die spesifieke stam(me) op ‘n plaas word aanbeveel. Indien dit nie deur die kommersieël beskikbare entstof gedek word nie, kan ‘n outogene (plaas/patogeenspesifieke) entstof vervaardig word. ‘n E coli entstof word gewoonlik aanbeveel waar probleme met kriptosporidium ervaar word. 

Blou-uier - indien die voorkoms daarvan ‘n probleem raak, kan die entstof probeer word. Uiers herstel selde nadat ooie blou-uier opgedoen het en dit kan selfs tot vrektes lei. 

ORF/Vuilbek - waar vuilbek voorkom kan dit katastrofiese gevolge hê tydens lamtyd. Die sere wat op die spene van die ooie vorm, maak dat die ooi nie die lam wil laat soog nie. Die ooie se voerinname gaan ook nie optimaal wees nie as gevolg van die sere op die ooi se lippe/bek, wat melkproduksie negatief beïnvloed.

‘n Entprogram, wat toepaslik is vir die omgewing of spesifieke boerdery omstandighede, behoort in samewerking met die plaaslike veearts opgestel word. Kontak gerus u plaaslike veearts vir die mees geskikte entstowwe vir u area. 

NB. Goeie voeding en spoormineraalaanvulling tydens enting, kan die effektiwiteit van entstowwe verhoog.

 

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?