Health Care

Score5 (1 Votes)

SKAAPBESTUUR VOOR-LAM: Parasietbeheer

Artikel 5 van 6 oor hierdie onderwerp

“CONCEPTION TO CONSUMPTION” - 'N PROGRAMBENADERING

Die effek van inwendigeparasiete is baie meer nadelig en ernstig by skape as beeste. Uitwendigeparasiete is weer in die algemeen ‘n minder ernstige probleem by skape. Luise en myte kan wel ‘n groot negatiewe impak op skape hê. Bosluise en insekte kan ook bydra tot siektetoestande en kondisies wat ‘n negatiewe  invloed op winsgewendheid kan hê. 

Ramme kan baie maklik afgeskeep word indien belangrike aksies soos lamtyd aanbreek - veral as hulle nie onder gereelde toesig is nie. Dit kan daartoe lei dat ramme ‘n knou kry wat hul kondisie en vrugbaarheid negatief kan raak.

 

Inwendigeparasiete

 

Seisoen en area sal ‘n groot rol speel in die nodigheid vir, en parasiete te beheer. Die teenwoordigheid van inwendigeparasiete in laatdragtigheid kan daartoe lei dat ooie se eetlus afneem, voerinname verlaag, lamontwikkeling benadeel word in ‘n tyd wat maksimum groei moet plaasvind. Inwendigeparasiete kan ooie se kondisie laat afneem, wat uierontwikkeling, bies- en melkproduksie kan benadeel.

By wolskape kan selfs die wolproduksiepotensiaal van die ongebore lammers negatief beïnvloed word indien die ooi ‘n hoë parasietlading het. Die ontwikkeling van die lam se wolfollikels wat in laatdragtigheid plaasvind, kan gestrem word indien die ooi se voedingstof inname en kondisie as gevolg van ‘n hoë parasietlading daal.

Rondewurms het gewoonlik die grootste negatiewe invloed op die welstand van ooie. Daarom word dit  aanbeveel om ooie in laatdragtigheid (laaste maand voorlam), met ‘n breëspektrummiddel te behandel wat ook nawerking teen haarwurm bied. Dit word ‘n strategiese dosering genoem. Die nawerking kan ook help dat ooie (normaalweg) nie tydens die lamtyd gedoseer hoef te word nie. In areas waar bruinmaagwurm voorkom, moet die middel wat gebruik word die parasiet effektief kan beheer.

Neuswurmbeheer is ook belangrik, aangesien ooie hul reuksintuig gebruik om met hul lam(mers) te bind na die geboorteproses. (Onthou dat neusafskeiding nie net deur neuswurm veroorsaak word nie. Dit kan ook as gevolg van longontsteking wees wat dadelik behandel moet word!)

Volwasse skape kan ook met lintwurm besmet wees. Alhoewel dit nie dieselfde negatiewe effek op volwasse skape het as wat dit op lammers kan hê nie, kan die ooie die weiding met lintwurmeiers besmet. Dit kan die besmetting van die lammers verhoog. Daarom is dit voordelig om ‘n voorlamdosering te gebruik wat ook lintwurm sal beheer.

Lewerslak beïnvloed die funksionering van die lewer, wat op feitlik alle liggaamsprosesse ‘n negatiewe invloed kan hê - veral proteïen- en energiemetabolisme - wat in hierdie tyd krities is! Dit word dus aanbeveel dat in lewerslakareas, die voorlamdosering ook lewerslak sal beheer.

In laatdragtigheid ontwikkel ooie ‘n toestand wat in Engels as “PPRR” bekend staan. PPRR is die afkorting vir “periparturient relaxation of resistance”, en word vermoedelik deur hormonale veranderinge in die ooi in laatdragtigheid geaktiveer. Dit het tot gevolg dat die weerstand van ooie teen parasiete verlaag en parasietgetalle laat toeneem. Dit het nie net ‘n negatiewe invloed op die ooi nie, maar verhoog ook die besmetting van die weiding. 

Neem mismonsters met dosering vir die bepaling van miseiertellings en 10 dae later weer van dieselfde skape, om seker te maak dat die middel wat gebruik is, doeltreffend was. Ons kan nie in hierdie belangrike tyd bekostig om eers later uit te vind dat die middel nie effektief was nie! 

Wat jy nie kan sien nie, kan jou kos!

 

 

Uitwendigeparasiete

Alhoewel uitwendigeparasiete in die algemeen nie vroeg in die seisoen ‘n groot uitdaging bied nie, moet die voorkoms daarvan dopgehou word en volgens behoefte beheer word.

Bosluise kan aanleiding gee tot skape wat kruppel word en hoefinfeksie opdoen. Dit sal die ooi se loopvermoë negatief raak en inname van voer benadeel, met al die negatiewe gevolge daarvan soos reeds hierbo bespreek.

Luise en myte (skaapbrandsiekte) kan ook geweldige irritasie tot gevolg hê wat dringende beheer sal vereis. NB. Dit is uiters belangrik om die parasiet reg te diagnoseer, aangesien dit die behandelingsprotokol sal bepaal. Luise word nie deur inspuitbare middels beheer nie, terwyl skaapbrandsiektemyte wel met behulp van ‘n inspuitbare middel beheer kan word. Verder is dit belangrik dat al die skape op die plaas gelyktydig behandel word. ‘n Opvolgbehandeling behoort 10-14 dae later  gedoen word om ‘n herbesmetting van nuut uitgebroeide larwes te voorkom. In die geval van skaapbrandsiekte word ‘n opvolgbehandeling wetlik vereis. (Die eiers van luise en myte word nie deur enige behandeling gedood nie).

Insekte (muggies) is gewoonlik later in die seisoen - middel- tot laatsomer, ‘n groter uitdaging. Dit is verantwoordelik vir die oordrag van virale siektes soos bloutong en slenkdalkoors. Aangesien die beheer van insekte in ekstensiewe omstandighede baie moeilik is, moet inentings so spoedig moontlik na lam gedoen word om hierdie siektes sovêr moontlik te voorkom - veral in hoëreënval jare wanneer die kanse op hierdie siektes verhoog.

 

Moet nie die negatiewe impak van uitwendigeparasiete onderskat nie!

 

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

VERWANTE PRODUKTE

Prodose® Orange

Read more

Prodose® Red

Read more

Prodose® Red Soluble Powder

Read more

Prodose® Yellow LA

Read more

Amipor®

Read more

Trigger Strike

Read more