Health Care

Score3 (5 Votes)

Ontwurming van beeste - waarom?

Dit is ekonomies belangrik om op strategiese tye volwasse beeste te ontwurm om produksie en reproduksie te verbeter. Die beste tye is vroeg in die somer (Okt-Nov) en voor die winterseisoen begin (April / Mei). Strategiese ontwurming op hierdie tye sal help om:

  • Die inwendige parasietuitdaging op die veld te verminder
  • Die risiko van die negatiewe impak wat inwendige parasiete op beeste het verminder 

Uit die 3 inwendige parasietgroepe (Rondewurms, Lintwurms, Slakwurms) is 2 van groot belang by volwasse beeste:

1.  Rondewurms - veroorsaak:

  • Swakker eetlus
  • Onderdrukte gewigstoenames
  • Swakker voeromset
  • Verlaging in reproduksie- en melkproduksiedoeltreffendheid by koeie

Alhoewel volwasse beeste weerstand teen rondewurmspesies kan ontwikkel, kan hierdie parasiete nog steeds onder sekere omstandighede 'n invloed op produksie hê, veral wanneer die diere onder stres verkeer. Stres kan insluit fisiologiese stres soos bv. gedurende die oorgangsperiode (net voor en na kalwing), sowel as tydens voedingsstres (lae kwaliteit / hoeveelheid voer) en omgewingsstres (droogte- en ekstreme weerstoestande)

2.  Lewerslak - beskadiging van die lewer lei onder andere tot: 

  • Energie- en proteintekorte (verlies aan kondisie, vrugbaarheid en groei).
  • Beperkte stoorvermoë van spoorminerale - wat die aanvulling van spoorminerale minder effektief maak en lei tot suboptimale vlakke van spoorminerale (verlaagde immuniteit, reproduksie en produksie)
  • Vit A tekorte kan lei – selfs op groen weiding

Alhoewel beeste “teenliggaampies” ontwikkel wat met 'n ELISA-toets opgespoor kan word en die teenwoordigheid en graad van besmetting kan bevestig, ontwikkel beeste nie beskermende immuniteit teen lewerslak nie.

Bewyse wat bevestig waarom die ontwurming van beeste van belang is:

  •  In Suid-Afrika, het dr. HJ. Meaker (1994) baanbrekerswerk gedoen om die effek van ontwurming op reproduksie by vleisbeeste te bepaal. Die proewe het die verskil in konsepsie  van diere wat 1x ontwurm is (slegs Junie) en diere wat 2x ontwurm is (Junie & November) teenoor ‘n kontrolegroep aangetoon. Die groep wat twee behandelings ontvang het, het 'n 17,9%  toename in konsepsie getoon in eerste kalf verse teenoor die kontrole groep en 'n toename van 14,3% in die tweede kalf-koeie teenoor die kontrolegroep. Boonop het die kalwers van die groep wat x2 ontwurm is,  4,4 kg swaarder gespeen, alhoewel hulle self nie ontwurm was nie! Dit is 'n as gevolg van 'n verbetering in melkproduksie by koeie wat ontwurm is.

       

  • 'n Proef in die Grootfontein-gebied in Namibië  deur dr MJ Ferreira (2011) het gekyk na die effek van gereelde ontwurming van vleisbeesverse vanaf speen tot 12 maande. Alhoewel die telling van rondewurmeiers soms baie laag was, het die eiertellings met voedingsstres en na goeie reënval toegeneem. Die netto effek van ontwurming in hierdie relatiewe “parasietvrye” toestande, was dat teen die tyd dat 50% van die behandelde verse bronstig geraak het, het nog nie een van die kontrole bronstig geraak nie. Dit is 'n bewys van die negatiewe effek van inwendige parasiete op die groei en ontwikkeling van vleisbeesverse.

  • 'n Opsomming van 21 proewe in die VSA deur Taylor (1996) - 6 proewe en Bliss (1997) - 15 proewe, het die volgende ROI (opbrengs op belegging) op ontwurming in die volgende produksiestelsels getoon:
    • Koei / kalfstelsel (speenkalfproduksie) -                   2:1
    • Stoorbeesstelsel (“longweaners” / “backrounding”) - 3:1
    • Voerkraalstelsel -                                                   3:1 tot 10:1

Met al die bogenoemde proewe kan mens sien hoekom dit belangrik is om volwasse beeste op strategiese tye te ontwurm. Dit verbeter produksie en reproduksie. 

Kontak u plaaslike Virbac tegniese verkoopsadviseur om u te help met die regte produkkeuse wat in 'n program vir u boerdery gebruik kan word, om die risiko en negatiewe impak van inwendige parasiete by beeste op u plaas te verminder.

 

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Produkte

Eliminate

Read more

Flukazole C

Read more

Virbamec® L

Read more

Virbamec® LA

Read more