Health Care

Score0 (0 Votes)

BESTUUR VAN VLEISBEESKOEIE VOOR KALWING

Die laaste twee maande voor kalwing is seker een van die belangrikste periodes in die produksiesiklus om sukses te verseker. 

Dit het nie net ‘n invloed op die suksesvolle geboorte van ‘n kalf met ‘n sterk oorlewingsvermoë nie, maar ook wat met die kalf en die koei gebeur na afloop van die geboorteproses, tot die sukses van die komende dekseisoen en selfs tot en met speentyd. Die volgende aspekte behoort aandag te geniet:

  1. Kondisietelling en Voeding

Dit is algemeen bekend dat koeie in ‘n aanvaarbare kondisietelling moet kalf, aangesien dit so ‘n groot effek het op vele aspekte wat produksie, reproduksie en uiteindelik die winsgewendheid beïnvloed. ‘n Kondisiepunt van 3.5 met kalwing word algemeen as ideaal beskou (Sien foto’s).

Dit is belangrik om vroegtydig met ekstra aanvulling te begin indien koeie se kondisie nie na wense is nie, aangesien kondisie nie oornag reg gevoer kan word nie! Begin dus eerder vroeër as later om die kondisie van koeie te verbeter. Baie belangrik - moet nie dat die lang winterhare jou flous en die kondisie oorskat nie!

Die voeding/kondisie van die koeie voor/tydens kalwing is om die volgende redes van kardinale belang:

  • Ontwikkeling van die ongebore kalf:
    Ons weet dat die meeste fetusgroei (+-75%) in die laaste twee maande van dragtigheid plaasvind. Die voeding van die koei in hierdie tyd moet instaat wees om die ongebore kalf ten volle te laat ontwikkel EN die kondisie van die koei te onderhou of te laat toeneem. Dit sal die oorlewingsvermoë (lewenskragtigheid) van die kalf bevoordeel - veral tydens ongure weersomstandighede tydens geboorte. 

    Alhoewel nie ‘n algemene probleem nie, kan oorvoeding gedurende hierdie tyd  nadelig wees. Dit kan daartoe lei dat die geboortemassa van die kalwers sodanig  toeneem, dat probleme met moeilike geboortes kan voorkom.
     
  • Invloed op die aantal dae tot eerste hitte na kalwing, herkonsepsie en interkalfperiode:
    Koeie moet teen kalwing in die ideale kondisie wees om die aantal “oop dae” tussen kalf en konsepsie te verminder en om ’n goeie herkonsepsie te verseker. Sien in Tabel 1 wat die effek van kondisietelling met kalwing is op die tyd wat die koeie “onvrugbaar” is - maw voor hulle in siklus kom. Hoe vroeër koeie in siklus kom en suksesvol bevrug raak, hoe beter (korter) is hulle interkalfperiode.

    Tabel 1: Invloed van kondisietelling met kalf op aantal “onvrugbare” dae na kalwing (Kunkle et al, 1998)


     
  • Invloed op uierontwikkeling, bieskwaliteit en melkproduksie:
    Voeding in laatdragtigheid het ‘n direkte invloed op uierontwikkeling. Uierontwikkeling het weer ‘n invloed op biesmelkproduksie (kwantiteit en kwaliteit), asook melkproduksie tydens laktasie. NB. Al drie hierdie aspekte kan nie deur goeie voedingsomstandighede na afloop van kalwing reggestel word nie!

    Tabel 2: Invloed van kondisie met kalwing, op die kwaliteit van bies - soos gemeet in die serum van kalwers, 24 uur na geboorte (Odde, 1992)


    Die hoeveelheid en kwaliteit van die bies kan ‘n deurslaggewende rol speel in kalfoorlewing na geboorte. Kalwers moet genoeg biesmelk inkry om hulle van belangrike voedingstowwe te voorsien. Daarby moet die kwaliteit van so aard wees dat die kalwers genoeg teenliggame inneem om hul immuunstelsel aan die gang te kry en kalfoorlewing te verbeter.
    Met ‘n goed ontwikkelde uier en met die regte kondisie (voeding), sal die koei instaat wees om maksimum melk te produseer. Kalwers is in die eerste twee maande uitsluitlik van die koei se melk afhanklik voordat hulle inname van weiding betekenisvol raak. In hierdie tyd is hulle voeromsetverhouding ook die beste (1:1 tot 2:1), en ‘n optimale groeitempo in hierdie vroeë stadium kan ‘n positiewe invloed op speenmassa hê. (Tabel 3).

    Tabel 3. Invloed van kondisietelling met kalf op 240 dae speenmassa  (Houghton et al, 1990)

    KT  @ KALWING

    240 DAE SPEENMASSA (kg)

    2

    170

    2.5

    209

    3

    234

    3.5

    234

Met al bogenoemde in gedagte, moet koeie wat 8 weke voor die kalfseisoen ‘n kondisiepunt van 3 tot 2.5 of minder het, se voeding drasties aangepas word - veral indien daar nog nie goeie weidingstoestande heers (kwaliteit en kwantiteit), of vooruitsigte daarvoor is nie . Die voorsiening van goeie kwaliteit hooi/kuilvoer en/of ‘n produksielek kan help om die kondisie te verbeter. 

Rol van ‘n verteringsmodifiseerder: 
Indien dit nie reeds deel van die aanvulling is nie, is dit hoogs aan te beveel. Gedurende die laatwinter is nie net die kwaliteit van natuurlike weiding baie laag nie, maar kan beskikbaarheid van die meer gewenste spesies ook beperk raak. Dit het tot gevolg dat beeste die minder smaaklike plantmateriaal moet benut wat ook moeiliker verteerbaar is. Dit lei daartoe dat die deurvloeitempo deur die spysverteringstelsel vertraag word, inname daal, diere minder voedingstowwe beskikbaar het en die kondisie daal - juis in die tyd wat die koei se voedingsbehoefte verhoog en kondisie gehandhaaf moet word!

Die insluiting van ‘n verteringsmodifiseerder (Browse Plus®) kan ‘n verskil maak.. Dit bevat ‘n kombinasie van aktiewe wat almal saamwerk om die gesondheid en werking van rumenorganismes te ondersteun en die negatiewe uitwerking van tanniene, harse en terpene te neutraliseer. Dit lei daartoe dat vertering verbeter, deurvloeitempo en inname verhoog word. Die gevolg hiervan is dat meer voedingstowwe vir die dier beskikbaar is en die verlies aan kondisie beperk word. 

NB. Die aanvulling van ‘n verteringsmodifiseerder is aanvullend tot die huidige aanvullingsprogram. Dit bevat nie proteïen, energie of minerale wat noodsaaklik is om aan te vul  in hierdie tyd nie!

  1. Inenting

Hierdie tydperk is die laaste geleentheid voor kalwing om belangrike entstowwe toe te dien. Dit is die ideale geleentheid om entstowwe te gee wat veral daarop gemik is om kalfoorlewing na geboorte te ondersteun, deur die oordrag van maternale immuniteit (teenliggame via goeie kwaliteit bies). Siektetoestande wat pasgebore en jong kalwers aantas en met enting verminder kan word sluit in: Paratifus, E coli, Rota- en Coronavirus. In meer intensiewe stelsels kan die toediening van ‘n multiklostridiale entstof ook voordelig wees:

  1. Spoormineraal- en Vitamienaanvulling

Hierdie tyd is die mees kritiese tyd vir spoormineraal- en vitamienaanvulling by die koeie. Die volgende faktore maak van hierdie aanvulling ‘n noodsaaklikheid:

  • Die spoormineraalbehoefte van die koei styg dramaties gedurende laatdragtigheid. Nie net moet die koei aan haar eie behoeftes voorsien nie, maar ook aan die van die ongebore kalf. Die fetus is totaal van die koei afhanklik om met ‘n goeie spoormineraalstatus gebore te word. 

  • Selfs met ‘n goeie orale aanvullingsprogram (lekke) in plek, is die ontwikkeling van ‘n spoormineraalgaping in hierdie tyd baie waarskynlik, as gevolg van die verhoogde behoefte. Ons weet teen hierdie tyd baie goed wat die moontlike gebreke van ‘n orale spoormineraalaanvullingsprogram kan wees bv. die rol van antagonisme, wisselvallige inname agv beperkte kripspasie en dominansie in die kudde, relatief swak opname van spoorminerale ens.
    ‘n Verdere komplikasie tydens laatdragtigheid, is dat die koei se voerinname beperk word as gevolg van die vinnig ontwikkelende fetus wat die rumenkapasiteit kan beperk - veral in die laaste maand voor kalf.

  • Om seker te maak dat die kalf met ‘n optimale spoormineraalstatus gebore word. Dit kan die oorlewingsvermoë van die kalf direk na geboorte verbeter, aangesien die immuunsisteem van die kalf vroeg na geboorte optimaal kan funksioneer 

  • Die kwaliteit van bies te optimaliseer. Spoormineraalaanvulling in laatdragtigheid kan die kwaliteit van bies verbeter. Dit word gemeet aan die hoeveelheid immunoglobuliene (teenliggame) in die bies. Die immunoglobuliene is wat die kalf se immuunsisteem aan die gang sit en die maternale immuniteit laat ontwikkel.

  • Om die immuunreaksie van die koei met inentings tydens laatdragtigheid te versterk. Navorsing wys duidelik op die voordeel van ‘n Multimin aanvulling wat gelyktydig met ‘n entstof gegee word - selfs al het die beeste nie suboptimale spoormineraalvlakke tydens enting nie! Hierdie voordeel word ook na die kalf oorgedra deur die goeie kwaliteit van die bies, soos hierbo bespreek.

  • Om seker te maak dat die koei se spoormineraalvlakke met kalwing nie te veel daal nie. ‘n Koei staan ongeveer 30% van haar spoorminerale af tydens kalwing deur middel van die kalf, die plasenta en die vrugwater. Indien die koei se spoormineraalvlakke voor kalwing dus nie optimaal was nie, loop sy die gevaar om laer immuniteit te hê. Dit kan lei tot ‘n verhoogde voorkoms van siektetoestande na kalwing soos vassit nageboortes, baarmoerderontsteking, hoër somatiese seltelling (SST) en mastitis. Dit kan ook die vermoë van die koei om so spoedig moontlik na kalf weer in siklus te kom.

Al bogenoemde faktore noodsaak dus die gebruik van ‘n goed gebalanseerde en bewese inspuitbare spoormineraalaanvulling (Multimin® Se+Cu+ Cr) om die spoormineraalgaping te oorbrug. ‘n Inspuitbare spoormineraalaanvulling soos Multimin, oorkom al die probleme wat met orale aanvulling ervaar kan word. Dit is ‘n sekere manier om die spoormineraalstatus van die elke koei tydens die kritiese tyd, effektief te verhoog. Moet nie die gelyktydige Vit A & E aanvulling (sinergistiese aksie) vergeet nie!

  1. Parasietbeheer

  • Interneparasiete

Indien die koeie aan die einde van die herfs behandel is vir inwendigeparasiete behoort hulle vir eers nog reg te wees. 

In lewerslakareas kan lewerslakbehandeling ‘n opsie wees om te voorkom dat koeie gedurende die kalftyd behandel moet word. Die lewer verrig soveel essensiële funksies en enige iets wat die werking daarvan negatief raak, soos lewerslak, kan ‘n rimpeleffek van negatiewe gevolge tot gevolg hê bv. swakker kondisie, laer melkproduksie en herkonsepsie.  

  • Eksterneparasiete

Let veral op vir die voorkoms van luise wat aan die einde van die winter kan toeslaan wanneer die diere swaar dragtig is en onder voedingstres verkeer. Luise veroorsaak geweldige irritasie en kan die kondisie van die koeie benadeel. In warmer areas moet die voorkoms van bosluise ook dopgehou word.

  1. Algemene Bestuur

‘n Paar algemene bestuursaksies waaraan aandag gegee kan word gedurende hierdie tyd is die volgende:

  • Indien moontlik/prakties, is dit nou ‘n goeie tyd om die koeie volgens kondisie of kalftroppe te klas. (Pas die voeding van die koeie aan om teen die aanbreek van die kalfseisoen, in ‘n kondisiepunt van ten minste 3.5 te wees).
  • Maak seker dat genoeg spasie by lekbakke beskikbaar is om kompetisie so vêr as moontlik te verminder. Maak ook seker dat lekke deurentyd beskikbaar is.
  • Werk so rustig as moontlik met swaardragtige koeie om stres te verminder. Vermy kneusings of beserings tydens hantering wat tot aborsies kan lei. Hanteringsgeriewe moet van so ‘n standaard wees om dit moontlik te maak. Werkers moet ook opgelei wees om so rustig moontlik met die diere te werk. Koeie moet rustig na en van die hanteringsgeriewe aangejaag word. Skoon drinkwater moet te alle tye naby beskikbaar wees. Indien koeie in uitsonderlike omstandighede in die kraal moet oornag, moet vars drinkwater en voer (hooi) beskikbaar wees.
  • Beplan solank die kalfkampe en maak seker dat die heinings en watervoorsiening in orde is. Indien die kalwers kruipvoer gegee gaan word, moet seker gemaak word dat die voerbakke en kruiphekke in orde is.
  • Let op vir aborsies in laatdragtigheid. Enige geaborteerde fetus behoort so spoedig moontlik na die veearts geneem te word en weg gestuur word vir ondersoek om die oorsaak te probeer vasstel. Veral by eerstekalfverse, kan aborsies ‘n aanduiding van besmetlike misgeboorte wees! (Daarna kalf die koeie gewoonlik normaal)
  • Wees bedag op die voorkoms van metaboliese steurnisse soos melkkoors in laatdragtigheid.
  • Maak seker dat die “noodhulptas” die belangrikste middels bevat om die mees algemene toestande voor en tydens kalwing te kan behandel:
    • Steekpille (antibiotiese bruispille) om baarmoederinfeksie na moeilike geboortes te voorkom (Obermycin Foaming Pessaries)
    • Middels om diarree by pasgebore kalwers mee te behandel bv.  elektrolietaanvulling
    • Antibiotika om algemene infeksies te voorkom/behandel - tetrasiklien (Terralon LA) of sulfa (Sulmetrim Plus NF) gebaseerde middels as eerstelyn behandeling.
    • Inflammatoriese middels (verligting van pyn en koors) - slegs by u veearts beskikbaar 
    • ‘n Middel om melkkoors mee te behandel
    • ‘n Jodium preperaat om naelstringinfeksies te voorkom - veral, wanneer in krale gekalf word (Oberdine Wound, Ey and Footrot Spray)
    • Wegdoenbare spuite en naalde 
    • Plastiese handskoene vir gebruik tydens moeilike geboortes

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

VERWANTE PRODUKTE

Amipor®

Read more

Browse Plus®

Read more

Eliminate

Read more

Wirecide F

Read more

MultiDip

Read more

Multimin® + Se + Cu + Cr Cattle

Read more

Flukazole C

Read more

Multimin® + Se + Cu Cattle

Read more

Pro-Vit A

Read more

Multimin® + Se Cattle, Sheep and Angora Goats

Read more

Virbamec® L

Read more

Virbamec® LA

Read more