Health Care

Score0 (0 Votes)

Presisie boerdery met inspuitbare spoorminerale by melkkuddes

Luister na Landbou Radio onderhoud met Adéle Rothmann:

Vir hoë-produserende melkbeeste is dit belangrik dat die voer of byvoeding spoorminerale bevat wat noodsaaklik is as ‘n daaglikse basisaanvulling. Orale aanvullings het egter sekere beperkings soos variasie in inname (en dus spoormineraalinname), veral wanneer die melkkoei se voerinname drasties daal soos ons sien kort voor en na kalwing. Verder speel antagoniste soos kalsium (Ca), yster (Fe) en swael (S) wat in die voer of water kan voorkom ‘n groot rol, deurdat dit die opname van spoorminerale in die spysverteringskanaal negatief kan beïnvloed.

Inspuitbare spoormineraalaanvullings word al in Suid-Afrika gebruik vir amper 30 jaar en is ontwikkel om meeste van die probleme van orale aanvullings te oorkom. ‘n Inspuitbare produk systap die antagoniste in die spysverteringskanaal, deurdat die spoorminerale direk vanaf die inspuitplek opgeneem en via die bloedstroom deur die liggaam gesirkuleer word vir opname en storing in die lewer en ander organe. 

Verder het dit die voordeel dat elke dier sy regmatige aanvulling kry. Inspuitbare bronne word as ‘n “OP TOP” aanvulling gegee ongeveer 30 dae voor die aanvang van kritiese tye in die produksiesiklus van melkkoeie, wanneer die behoefte aan spoorminerale gewooonlik hoër is, byvoorbeeld tydens opdroog, tydens opstoom of voor KI. Met beproefde inspuitbare produkte het ons ‘n positiewe effek op diereproduksie en -gesondheid gesien al was die spoormineraalvlakke in die voer as voldoende en selfs meer as voldoende beskou.  

Spoorminerale wat in ‘n gebalanseerde, inspuitbare produk voorkom, soos sink, mangaan, selenium en koper, word onder andere geïnkorporeer in die liggaam se antioksidant ensiemstelsel. Wanneer koeie in ‘n hoë produksiefase is soos byvoorbeeld laatdragtigheid wanneer die fetusgroei drasties toeneem én sy dra boonop nog 30% van haar spoorminerale oor aan die ongebore kalf, of wanneer diere gestres is, veral tydens hantering en byvoorbeeld begin van laktasie, verhoog wat ons noem oksidatiewe stres in die liggaam, en dit kan lei tot verlaagde diereporduksie- en gesondheid. Antioksidante is daar om oksidatiewe stres in die dier te help bekamp.

Dit is dan ook waarom ons ‘n inspuitbare mineraalbron toedien 30 dae voor ‘n kritiese tydperk. Die liggaam het tyd nodig om die spoorminerale te benut, asook om sleutel antioksidant ensieme te genereer. Deur die dragtige dier ‘n “op top” aanvulling te gee voor kalwing, vul ons onder andere aan wat sy oorgedra het aan die fetus en vir haar ander liggaamsfunskies, wat spoorminerale nodig het.

Dit is al in verskeie wetenskaplike studies bewys dat ‘n gebalanseerde, inspuitbare spoormineraalbron die konsepsie % verbeter het asook minder oop dae by koeie m.a.w. koeie raak vroeër beset.

As ons bietjie meer in diepte na elke spoormineraal se rol in reproduksie kyk, sien ons dat mangaan (Mn) ’n belangrike rol speel in die produksie en regulering van geslagshormone wat belangrik is vir die koeie om op hitte te kom (of bronstigheid), rypwording van follikels en die suksesvolle vrystelling van eiselle. 

Sink (Zn) speel ’n belangrike rol in suksesvolle bevrugting van die eisel en die ontwikkeling van die embrio, aangesien sink noodsaaklik is by vinnig verdelende selle.

Koper (Cu) is onder andere belangrik by embrio-oorlewing en ‘n tekort aan koper kan die aanvang van die estrussiklus vertraag of onderdruk.

Selenium (Se) staan bekend as die “vrugbaarheidspoormineraal”. Dit speel ’n belangrike rol in eiselontwikkeling, bevrugting en embrio-oorlewing. Optimale vlakke van selenium, in samewerking met vitamien E, is belangrik om vroeë embrionale verliese (of resorpsies) te voorkom/verminder. Vitamien A werk nou weer sinergisties saam met sink, en dit is waarom ons dan aanbeveel om Vit A en E saam met ‘n goeie inspuitbare spoormineraalbron te gee.

Studies wys dat chroom (Cr) die vermoë het om subkliniese metritis te verlaag en die aantal lewensvatbare oösiete te verhoog.

En natuurlik bevorder al hierdie spoorminerale die immuunstelsel; ‘n gesonde dier se reproduksietempo is vanselfsprekend beter!

Onthou, meer is nie altyd beter nie! Wees bewus van toksisiteit en hou by die aanbevole dosis en gebruiksaanwysings. ‘n Inspuitbare bron vervang nie orale aanvullings van spoorminerale in lekke of voere nie. Gebruik eerder ‘n goeie, beproefde inspuitbare spoormineraalbron as ‘n presisie gereedskapstuk in jou boerdery om ‘n goeie orale aanvullingstrategie te ondersteun of te komplimenteer.

‘n Inspuitbare spoorelementpreperaat behoort aan sekere vereistes te voldoen om maksimum effektiwiteit te verseker. Dis belangrik dat dit hoogs biobeskikbaar is en vinnig in die bloedstroom opgeneem word by plek van inspuiting en in die lewer gestoor word vir latere gebruik. 

Verder moet die minerale in ‘n gebalanseerde verhouding wees en ook genoegsame vlakke van spoorminerale bevat om ‘n noemenswaardige effek te bewerkstellig. Dit is altyd wys om te kyk na die wetenskaplike, gepubliseerde navorsing wat die produk se werking en effektiwiteit ondersteun - dus, gebruik ‘n produk wat beproef is en wat jy kan vertrou, soos MULTIMIN.

 

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1

VERWANTE PRODUKTE

Multimin® + Se + Cu + Cr Cattle

Read more

Multimin® + Se + Cu Cattle

Read more