Health Care

Score1 (1 Votes)

Droogte Bulletin

Die droogte het groot dele van die land in ʼn wurggreep. Daar waar dit wel nou onlangs gereën het, is dit heelwaarskynlik te laat om die nadelige effek van die droogte op te hef voordat die winter aanbreek. Hierdie moeilike omstandighede het nie net ʼn negatiewe invloed op plant en dier nie, maar kan maklik ook tot moedeloosheid en selfs desperaatheid by boere lei. Dit is belangrik dat ons almal besef dat dit nie die eerste droogte is wat ons beleef nie en ook nie die laaste een gaan wees nie! Deur pro-aktief op te tree, kan die effek van die droogte verminder word. Hierdie skrywe het ten doel om paar algemene wenke aan veeprodusente te gee om die effek van die droogte-toestande te minimaliseer.

Die volgende kernaspekte gaan bespreek word:

Vermindering van veegetalle
Die vroegspeen van kalwers/lammers
Optimale benutting van beskikbare ruvoer
Beheer van inwendige en uitwendige parasiete
Aanvulling van spoorminerale en vitamiene
Enting van diere

Vermindering van veegetalle

Al hoe moeilik dit is – moet die vermindering van veegetalle een van die eerste stappe wees wat geneem word. Raak ontslae van al die “passasiers” of minder produktiewe diere op die plaas, voordat hul kondisie so verswak dat dit nie verkoop kan word nie of pryse te veel daal. Diere behoort in volgende volgorde verminder te word:

 
  • Manlike diere (bulle/osse/hamels) wat nie kan help met kudde bou na afloop van die droogte nie
  • Volwasse vroulike diere wat - nie reeds dragtig is nie, nie gereeld kalf/lam nie, wat swak moederseienskappe het en die wat reeds na aan “aftree ouderdom” gekom het
  • Vervangingsverse/ooie – verkoop eerste die speen tot jaaroudverse nie-dragtige verse en daarna die 1 tot 2 jaar oue verse indien nodig
  • Die laaste opsie is om sogende en/of dragtige koeie/verse te verkoop
  • Die vermindering van veegetalle maak die bekke waarvoor gesorg en duur voer voor gekoop moet word minder, sodat beter gesorg kan word vir die oorblywende diere. Dit sal die verlies aan kondisie beperk, wat weer reproduksieverliese en vrektes kan beperk. 

Vroegspeen van kalwers/lammers

Dit is baie beter om kalwers/lammers vroeg te speen en apart te versorg, as om toe te laat dat koeie/ooie so afgesuip word dat hulle net vel en been is. Vroulike diere wat te veel kondisie verloor (kondisietelling van 2.5 en minder), sal baie swakker reproduseer en ook langer neem om weer dragtig te raak as toestande verbeter.  Daarby is dit goedkoper en meer doeltreffend om apart vir droë koeie/ooie en kalwer/lammers te sorg as om vir sogende koeie/ooie te sorg. Droë koeie/ooie kan met ʼn baie goedkoper rantsoen onderhou word, terwyl die jong kalwers/lammers duur aanvullings meer doeltreffend benut.

ʼn Duim reël vir die vroegspeen van lammers is op ongeveer 60 dae ouderdom en by kalwers op 6 maande ouderdom, mits hulle kruipvoer ontvang. Indien omstandighede vereis dat selfs vroeër gespeen moet word, sal baie spesiale aandag aan die jong diere gegee moet word om hulle oorlewing en ontwikkeling te verseker.

Indien lammers/kalwers vroeg gespeen word, is dit belangrik dat hulle vroegtydig ontwurm word, ingeënt word, spoormineraal – en vitamienaanvulling ontvang en verkieslik gewoond gemaak word (kruipvoer) aan die rantsoen wat hulle na afloop van speen gaan ontvang. Dit sal die speenskok verminder en die oorlewing en ontwikkeling van die vroeggespeende diere verbeter.

Optimale benutting van ruvoer

In tye van droogte, is die beperkende faktor die hoeveelheid ruvoer wat beskikbaar is om diere mee aan die gang te hou. Alle beskikbare ruvoer moet dus so doeltreffend as moontlik bewaar en benut word om die inkoop van skaars en duur ruvoer sovêr moontlik te beperk.

Graangewasse: wat so deur die droogte geraak is dat dit nie die moeite werd sal wees om dit te oes nie, kan gebruik word as ruvoer vir die veevertakking om darem waarde daarvan te kry.  Mielies, sojabone, graansorghum en sonneblomme kan ingekuil word indien die droëmateriaalpersentasie (DM) daarvan nog tussen 28-35% is. Die byvoeging van inokulante en ekstra energie kan die kwaliteit van die kuilvoer verbeter. Die voedingswaarde van hierdie “droogtekuilvoer” sal egter minder wees as normale kuilvoer (veral as daar nie voldoende pitvorming plaasgevind het nie), maar kan met die korrekte aanvullings doeltreffend gebruik word as: 

  • onderhoudsrantsoen vir teeldiere of 
  • as basis vir ʼn rantsoen vir die voerkraalafronding van speenkalwers/lammers en diere wat reeds so baie kondisie verloor het dat hulle nie bemarkbaar is nie

Kontak u naaste voedingskundige vir die saamstel van lekke en / of aanvullings vir gebruik saam met hierdie kuilvoer, volgens die voedingswaarde daarvan. Die klas van dier (produksiestatus), waarvoor dit aangewend gaan word, sal ook bepaal wat die aanvulling behoort te wees.

Indien die graangewasse nie ingekuil kan word nie, kan dit saam met lekke/aanvullings ook as “staandehooi” aangewend word. Die vermorsing sal egter net baie hoër wees (selfs 30% en hoër!) – iets wat nie juis bekostig kan word nie.

Weidings (natuurlik of aangeplant): weidings wat nog beskikbaar is, moet so doeltreffend as moontlik benut word. Hoe droër en skaarser die weiding raak, hoe laer is die verteerbaarheid en die kwaliteit daarvan, maar dit kan nog steeds as bron van ruvoer gebruik word. Lekaanvullings wat NPN verskaf speel ʼn groot rol in die benutting van hierdie weidings. Die benutbaarheid kan verder verbeter word deur die gebruik van ʼn verteringsmodifiseerder. Dit dra by tot ʼn meer gesonde rumenfunksie wat tot beter vertering, inname en benutting van die voedingstowwe opgesluit in die droëweiding lei.  As gevolg van die beter vertering word die deurvloeitempo en dus inname verhoog, wat groter hoeveelhede voedingstowwe tot gevolg het. NB. Begin eerder vroeër as later met die aanvulling om te voorkom dat diere se kondisie te veel daal!!​

Boskomponent: in areas met ʼn boskomponent, kan die benutting daarvan verbeter word deur middel van die insluiting van dieselfde verteringsmodifiseerder as hierbo. Die tannine wat in die blare van verskeie boomsoorte voorkom, beperk die benutbaarheid daarvan. Tannine bind met die proteïene sodat dit nie doeltreffend deur die diere opgeneem kan word nie. Deur die tannine suksesvol te neutraliseer, kan die boomblare ʼn belangrike bron van voeding vir die diere word wat meer benutbare voedingstowwe tot gevolg het.

In sekere gevalle kan indringerspesies as ruvoerbron dien in onderhoudsrantsoene. Deur dit af te sny, op te kerf, fyn genoeg te verwerk en met aanvullings van ʼn verteringsmodifiseerder, proteïen en energiebronne te verryk, kan dit as onderhoudsrantsoen aangewend word.

Beheer van parasiete

Inwendig: 

Meeste boere dink nie in droogtetye dat parasiete teenwoordig enigsins ʼn faktor kan wees nie, wat staan nog van ʼn negatiewe invloed op diere hê. Alhoewel die parasietlading in die algemeen laer kan wees, kan reën (soos wat onlangs oor groot dele voorgekom het), die sneller wees van ʼn parasietontploffing wat ʼn mens onkant kan vang! Onder toestande van stres en verlaagde immuniteit, kan selfs relatiewe lae parasietladings ʼn negatiewe effek op die dier hê. As toestande nie gunstig is vir parasiete om hul lewensiklus te voltooi nie - “oorwinter” hulle in die diere. Die verlies aan bloed en bloedproteïene plaas baie stres op die diere. Daarom is dit belangrik dat diere behandel moet word sodat dit nie ook nog ʼn neerdrukkende effek op die kondisie van diere het nie. Maak dus seker dat skape en beeste met ʼn kwaliteit breëspektrummiddel behandel word om so veel as moontlik inwendige parasiete te dood.

In lewerslakareas kan die algehele getalle van die besmetlike stadium van die lewerslak (mirasidium) dalk laer wees, maar met die laer watervlakke van spruite, vleie en damme, is die besmetlike stadium van die lewerslak meer gekonsentreerd! Die onvolwasse stadium van die lewerslak veroorsaak die meeste skade aan die lewer. Die lewer is seker een van die belangrikste organe in die diere wat by verskeie lewensbelangrike prosesse betrokke is. ʼn Lewer wat dus nie optimaal funksioneer nie as gevolg van lewerslakskade, plaas nog verdere druk op die dier. Maak dus gebruik van ʼn produk wat die beste werking teen die onvolwasse sowel as die volwasse stadium van lewerslak het. 

Uitwendig: 

Gedurende die wintermaande en veral wanneer diere in ʼn swak kondisie is en stresvlakke hoog is, kan luise geweldige skade aanrig. Luise veroorsaak erge irritasie wat diere nog verder kondisie laat verloor. By die eerste aanduidings van ʼn luisbesmetting moet diere dus dadelik en doeltreffend behandel word. In sommige gevalle en met sommige metodes van behandeling, kan selfs twee behandelings nodig wees om doeltreffende beheer te verkry.

Bosluise en insekte se getalle kan ook dramaties toeneem met die geringste voorkoms van reën. So kan die uitbreek van siektes soos rooiwater, galsiekte, hartwater, sweetsiekte en selfs bloutong, perdesiekte en knopvelsiekte onverwags voorkom. Wees dus bedag daarop om uitwendige parasiete te bestry. Onthou dat van die bosluisoorgedraagde siektes deur die laaf- en nimfstadia van bosluise oorgedra word wat nie maklik met die blote oog waargeneem kan word nie. Moet dus nie wag totdat volwasse bosluise voorkom voordat diere behandel word nie. Indien die immuniteit van diere onder druk is (soos in droogtetoestande), word hulle ook makliker siek - al was hulle voorheen blootgestel aan die siektes.

Aanvulling van spoorminerale en vitamiene 

Spoorminerale is minerale wat in baie klein hoeveelhede benodig word maar ʼn baie belangrike rol in ʼn menigte van funksies in die liggaam speel, van reproduksie, groei (GDT), produksie (vleis/wol/haar/melk) tot immuniteit. Diere wat onder druk kom agv sub-optimale voeding se stresvlakke verhoog en hul immuniteit word onderdruk. Lae vlakke van voedingstowwe en stres geassosieer met ongunstige omgewingsfaktore het ʼn neerdrukkende effek op die reaksie wat verwag kan word na die toediening van entstowwe. 

Lekke en aanvullings bevat spoorminerale en behoort deel van die aanvullingsprogram te wees. Ongelukkig word die opname daarvan negatief beïnvloed deur antagoniste in die spysverteringskanaal (veral Ca, Fe, S), asook variërende inname agv beperkte kripspasie, dominansie in die trop ens. Die beste manier om seker te maak dat spoormineraalaanvulling korrek en doeltreffend plaasvind, is dmv die toediening van ʼn beproefde, korrek gebalanseerde en hoogs biobeskikbare inspuitbare preparaat. 

Vitamien A aanvulling in droogtetye kan, saam met die spoormineraalaanvulling, ook help om die integriteit van die slymvliese te verbeter. Dit kan die voorkoms van bv. oogprobleme en die indringing van ander siekteveroorsakende organismes verminder. Indien diere verswak raak, kan hulle ook baat by die orale aanvulling van ʼn kombinasie van vitamiene en aminosure om hulle algemene gesondheid en lewenskragtigheid te ondersteun.

Entings

Diere wat kort weidings bewei onder baie stowwerige toestande of in voerkraalsituasies gevoer word, se kanse om klostridiumverwante siektes soos sponssiekte en lamsiekte op te doen is veel groter as normaal. Sorg dus dat die spons/lamsiekte entings op datum is! Deur een of twee vrektes deur inenting te voorkom is die koste van die entstowwe gewoonlik klaar verhaal. Om te begin ent as daar reeds vrektes voorkom is gewoonlik te laat en oneffektief!

Die verlaagde immuniteit, stowwerige toestande en die samedromming van vee by voerkrippe kan die voorkoms van asemhalingverwante siektes soos longontsteking, pasteurella, IBR en BVD bevorder. Sorg dus dat die kernkudde en diere wat gevoer word beskerm is deur vroegtydige inentings.

 

 
 

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Produkte

Amipor®

Read more

Browse Plus®

Read more

Flukazole C

Read more

Multimin® + Se + Cu + Cr Cattle

Read more

Multimin® + Se Cattle, Sheep and Angora Goats

Read more

Multimin® + Se + Cu Cattle

Read more