Health Care

Score0 (0 Votes)

Sorg mooi vir jou laatdragtige ooie – kry hulle spoormineraalaanvulling in orde!

Vir 'n ooi om haar volle genetiese potensiaal te kan bereik, moet daar aan sekere vereistes voldoen word. Een van die belangrikste elemente word dikwels oorgesien, naamlik spoormineraalaanvulling. Dit gebeur hoofsaaklik omdat spoormineraalaanvulling nie 'n onmiddelike en direk visueel waarneembare uitwerking het nie. Tog speel dit “agter die skerms” 'n onontbeerlike rol in optimale diereproduksie!

Spoormineraalaanvulling is belangrik vir optimale immuniteit (Arthington en Havenga, 2012), groei (Spears en Kegley, 2002) – veral by jong ooie en lammers, asook reproduksie. Dit is welbekend dat die spoormineraalbehoefte van die ooi drasties verhoog gedurende dragtigheid. Indien slegs een mineraal kortkom, kan produksie en reproduksie negatief beïnvloed word (Lee et al., 2002). Alhoewel mens nie altyd 'n spoormineraaltekort kan waarneem nie, het dit 'n aansienlike impak op winsgewendheid. Wat jy aanvul vóór die lamseisoen gaan 'n definitiewe uitwerking hê op die hoeveelheid lammers gespeen (oorlewing), sowel as hulle speengewig (Hoon, 2007).

Spoorminerale is in die algemeen belangrik vir optimale immuniteit en lei tot gesonder en swaarder lammers, laer mortaliteite by die ooie en beter melkproduksie, wat weer lei tot beter groei by lammers. Hoe meer ongebore lammers die ooi dra, hoe hoër sal haar behoefte vir spoorminerale wees. Alhoewel orale inname (weiding en lekke) belangrik is, kan dit nie altyd in die behoeftes van die ooi voldoen in hierdie tydperk van hoë behoefte nie en 'n sogenaamde spoormineraalgaping ontstaan. Swaardragtige ooie se voerinname word boonop negatief beïnvloed deur die beperking wat die ongebore lam(mers) op die rumenkapasiteit plaas. Om dit te oorkom, kan spoorminerale deur middel van 'n inspuiting onder die vel toegedien word. 'n “Op Top” aanvulling 4 tot 6 weke voor lamtyd kan help om te voldoen aan die moderne, hoë-produserende ooi se behoeftes.

Noodsaaklike spoorminerale vóór lamtyd sluit in mangaan (Mn), sink (Zn), koper (Cu) en selenium (Se). Hierdie vier spoorminerale speel 'n belangrike rol in vele liggaamsfunksies van die dragtige ooi. 'n Tekort aan enige van hierdie minerale tydens laatdragtigheid kan 'n negatiewe uitwerking hê op die ontwikkeling en die oorlewingsvermoë van die lam. Spoorminerale word van die ooi na die fetus oorgedra en verseker dat die lammers gebore word met 'n optimale spoormineraalstatus. Melk bevat nie noemenswaardige vlakke van spoorminerale nie, daarom is dit baie belangrik dat lammers gebore word met 'n optimale vlak spoorminerale. 

Die gehalte van biesmelk word direk beïnvloed deur die spoormineraalstatus in laatdragtigheid. Dit word gesien in die hoeveelheid teenliggame teenwoordig in die biesmelk. Dit is belangrik aangesien dit die lam se immuunstelsel aan die gang kry en die vroeë (maternale) immuniteit van die lammers optimaliseer. Nuwe navorsing dui ook daarop dat inspuitbare spoormineraalaanvulling die doeltreffendheid van entstowwe verhoog (Roberts et al., 2016). Dit hou nie net vir die ooi 'n voordeel in nie, maar ook vir die lammers as gevolg van die beter gehalte biesmelk wat hulle inneem.

Mangaan verhoog die vrugbaarheid van ooie (Underwood en Suttle, 1999). Selenium is belangrik vir embrio-oorlewing en -ontwikkeling (Andrews et al., 1968). Selenium is ook belangrik vir optimale immuniteit en soos bo genoem, lei dit tot verlaagde mortaliteit van ooie asook hoër speenmassas (Munoz et al., 2008). Sink is belangrik vir hoefgehalte (vrotpootjie) en die gesondheidstoestand van die uier en spene. 'n Tekort kan lei tot laer geboortemassas. Koper kan ook 'n positiewe rol speel. Sowat 10% van die koper wat die ooi inneem word gebruik vir wolproduksie, speel 'n rol by voortplanting en siekteweerstand by ooie en (saam met selenium en vitamien A) en 'n verlaging in die voorkoms van agtergeblewe nageboortes. (NB: Die aanvulling van koper by skape moet met omsigtigheid benader word, aangesien dit tot vergiftiging kan lei indien die ooie reeds 'n voldoende koperstatus het.)

Ons kan dus sien dat spoormineraalanvulling in laatdragtigheid 'n baie belangrike rol speel by vele aspekte en dus die nodige aandag behoort te kry. Alhoewel orale inname van spoorminerale belangrik is en 'n standaardaanbeveling is, kan 'n inspuitbare “Op Top”-aanvulling met Multimin® in hierdie tyd help om die spoormineraalgaping te verklein of uit te wis om optimale produksie te verseker.

Tree gerus met u naaste Virbac Tegniese Verkoopsadviseur in verbinding vir produkaanbeveling en -posisionering.

 

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Produkte

Multimin® + Se Cattle, Sheep and Angora Goats

Read more

Multimin® + Se + Cu Sheep and Angora Goats

Read more

Multimin® + Se Sheep and Angora Goats

Read more