Health Care

Score5 (1 Votes)

Spoormineraalaanvulling en die paarseisoen

Spoormineraalaanvulling geniet deesdae baie meer aandag as in die verlede en dit is vir seker nie sonder rede nie! Die rol wat spoorminerale speel in optimale produksie word al hoe beter verstaan soos wat meer navorsing op die gebied gedoen word. 

 

Paarseisoen is vir die meeste mense die amptelike begin van die reproduksiesiklus. Ons weet ook dat reproduksie die hoofdrywer van winsgewende veeproduksie is. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om seker te maak dat ons ’n goeie wegspring het!

 

Reproduksie en voeding

 

Die belangrikheid van voeding voor en tydens paarseisoen om reproduksie te optimaliseer is welbekend en kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die kondisie en liggaamsgewig van ooie moet optimaal (3,5) wees tydens paarseisoen. Dit dien as die grondslag waarop suksesvolle reproduksie gebou word. Die gehalte en hoeveelheid van die voeding in veral die laaste ses weke voor paartyd speel ’n belangrike rol. Ooie moet verkieslik in ’n fase van stygende kondisie wees net voor en gedurende paarseisoen. Prikkelvoeding is ’n hulpmiddel wat met groot vrug oorweeg kan word vir ooie wat nie in optimale kondisie is voor die aanvang van paarseisoen nie. 

 

Rol van spoorminerale

 

Alhoewel die makrovoedingselemente (energie, proteïen, makrominerale, ens.) die grondslag van voeding vorm en grootliks die kondisie en liggaamsgewig van ooie bepaal, kan die rol van spoorminerale in hierdie tyd nie geïgnoreer word nie. Spoorminerale kan beskou word as die “sement” tussen die stene wat die struktuur moet versterk, of die “olie” wat die ratte moet smeer om glad te loop. Spoorminerale speel ’n belangrike rol in vele ensiemstelsels wat alle prosesse in die liggaam ondersteun. Tydens die paarseisoen speel spoorminerale ’n kardinale rol in prosesse soos bronstigheid (op hitte kom), suksesvolle ovulasie (vrystelling van eierselle), bevrugting, en embrio-inplanting en -oorlewing. Die bydrae van die belangrikste spoorminerale in hierdie kritiese tyd kan as volg opgesom word:

 

  • Mangaan (Mn) speel ’n rol in die produksie en regulering van geslagshormone wat belangrik is vir die ooie om op hitte te kom (bronstigheid), rypwording van follikels en suksesvolle vrystelling van eierselle. 
  • Sink (Zn) speel ’n belangrike rol in suksesvolle bevrugting van die eiersel en die ontwikkeling van die embrio, aangesien sink noodsaaklik is by vinnig verdelende selle.
  • Koper (Cu) maak saam met sink en mangaan deel uit van ’n ensiemkompleks wat ’n sterk antioksidatiewe funksie in die liggaam verrig deur vry radikale te beperk en/of te neutraliseer. Dit lei tot beter embrio-oorlewing.
  • Selenium (Se) staan bekend as die “vrugbaarheidspoormineraal”. Dit speel ’n belangrike rol in eierselontwikkeling, bevrugting en embrio-oorlewing. Selenium vorm onder andere ’n integrale deel van die ensiem glutatioonperoksidase. Hierdie ensiem is nodig in die finale fase om sekere oksidatiewe radikale te neutraliseer. Optimale vlakke van selenium, in samewerking met vitamien E, is belangrik om vroeë embrionale verliese (resorpsies) te voorkom/verminder. Selenium is ook belangrik om die immuniteitstelsel van die ooi te ondersteun en die werking van entstowwe te optimaliseer.

Aanvulling van spoorminerale

 

Ons moet besef dat spoormineraalaanvulling nie eers oorweeg kan word wanneer kliniese tekortsimptome waargeneem word nie. Suboptimale spoormineraalvlakke is net so skadelik en is soos die “klein jakkalsies wat die wingerde verniel” – ongesiens (moeilik om waar te neem), maar het ’n negatiewe uitwerking op voortplanting, produksie en immuniteit.

 

Orale aanvulling van spoorminerale deur middel van lekke dien as basisaanvulling van spoorminerale deur die jaar. Dit is maklik en relatief goedkoop, maar het beperkinge in terme van korrekte inname (kripspasie, dominansie in die trop) en antagoniste (veral oormaat Ca, Fe en S) wat die doeltreffende opname van ander spoorminerale kan beperk.

 

Inspuitbare aanvulling deur middel van ’n beproefde produk soos Multimin®, oorkom al die moontlike tekortkominge van orale aanvulling. Elke ooi ontvang haar optopaanvulling op die regte tyd wanneer die behoefte verhoog. Die opname van hierdie spoorminerale word nie deur antagoniste in die spysverteringskanaal beïnvloed nie. Een van die voordele verbonde aan die formulasie van Multimin® is dat die selenium in Multimin® dadelik beskikbaar is om in funksionele proteïene (wat deel uitmaak van ensieme) ingebou te word.

 

Vul u ooie aan ongeveer vier tot ses weke voor die aanvang van paarseisoen met Multimin®. Vir die beste resultate word aanbeveel dat ’n voldoende hoeveelheid vitamiene A en E ook aangevul word. Vitamien A verbeter die werking van sink, terwyl vitamien E die werking van selenium ondersteun. ’n Multimin® optopaanvulling op kritiese tye kan jou skaapboerdery vat van goed na beter!

 

Waarde vir geld

 

’n Verhoging in lampersentasie van slegs een persentasiepunt (bv. 120% na 121%) is meer as voldoende om die koste verbonde aan drie Multimin-behandelings te regverdig. Jan Hoon (2007) kom in sy proef tot die gevolgtrekking dat: “… the supplementation of Angora goats and sheep with a commercial trace-mineral supplement during the experimental period was economically viable.”

 

Kontak gerus u naaste Virbac Tegniese Verkoopsadviseur vir advies rakende produkkeuse en korrekte posisionering daarvan.

 

Hoon JH, Herseman MJ, 2007. Trace Mineral Supplementation of Sheep and Angora Goats in the different grazing areas of South Africa. Grootfontein Agric, Vol 7. Nr. 1 2007.

 

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Related Products