Health Care

Score0 (0 Votes)

Bestuursaspekte by die Speen van Lammers

Speentyd is tot ‘n groot mate “oestyd” - selfs in wolproduksiestelsels - terwyl dit in vleisproduksiestelsels volkome oestyd is. Ons moet alles in ons vermoë doen om die proses so  glad as moontlik te laat verloop, met die minste moontlike stres (speenskok). Speentyd is heelwaarskynlik die mees stresvolle tyd in die lam se lewe.

Speenskok

Speenskok lei tot 'n afname in groei, geen groei en in sommige gevalle, selfs gewigsverlies. Die ernstigheidsgraad en die duur van speenskok hang af van die lammers se ouderdom, liggaamsgewig en voorspeense voedings- en gesondheidsprogram. Ander faktore wat 'n rol in die omvang van die speenskok speel, is die algemene gesondheid van die lammers sowel as ander stresfaktore (bv. klimaat, hoeveelheid en gehalte van weiding, ensovoorts). 

Speenouderdom

Baie faktore beïnvloed die speenouderdom van lammers. Dit word meestal deur die produksiestelsel en/of heersende voedingsomstandighede bepaal. In meer intensiewe stelsels word lammers vroeër gespeen (90 tot 100 dae), terwyl later gespeen word in ekstensiewe stelsels (tot en met 150 dae). Massa met speen is normaalweg meer belangrik as die ouderdom self. Die beste riglyn is dat lammers minstens 45%, maar verkieslik 50%, van die ooie se paarmassa weeg met speen. Die minimum speenmassa moet verkieslik meer as 25 kg wees. Wanneer voedingsomstandighede nie goed is nie of in ‘n versnelde lamseisoen produksiestelsel (bv. 8 maande stelsel), moet  lammers ook vroeg gespeen word (60-90 dae).

Voeding

Voor- en naspeense voeding is baie belangrik om die lammers so vinnig moontlik oor die speenskok te kry. Lammers wat gewoond is aan kruipvoer voordat hulle gespeen word hanteer die speenproses net soveel beter. Kruipvoer behoort vir nog 14 dae na afloop van die speenproses voorsien word. Lammers wat vroeg gespeen word moet gewoond gewees aan kruipvoer. In ekstensiewe stelsels moet die beste beskikbare weiding aan lammers beskikbaar gestel word met speen.

Inentings

Inentings behoort verkieslik 2 tot 4 weke voor speen afgehandel te wees om die beste beskerming met speen die bied. Maak seker dat die (multi-) klostridiale (veral bloednier) en longverwante (pasteurella) entings op datum is. 

Parasietbeheer

Lammers behoort parasietvry te wees met speen om speenskok te verminder. ‘n Breëspektrum doseermiddel wat rondewurms, lintwurm en neuswurm beheer, word aanbeveel. (Sien die opvolg artikel wat hieroor handel vir meer besonderhede)

Spoormineraalaanvulling

Enige stres toestand (soos speen) lei tot verhoogde oksidatiewe stres in die dier se liggaam. Oksidatiewe stres veroorsaak skade aan selle binne die dier, wat as dit nie doeltreffend teengewerk word nie, kan lei tot velerlei probleme. Die immuunsisteem van die lam kom ook onder geweldige druk in hierdie tyd en moet ondersteun word. Spoorminerale speel ‘n kardinale rol in die beheer van oksidatiewe stres en die ondersteuning van die die immuunsisteem. ‘n Op Top inspuitbare spoormineraalaanvulling word met speen aanbeveel. (Sien die opvolg artikel wat hieroor handel vir meer besonderhede).

Opsomming

Sterk en gesonde lammers wat minimale speenskok ervaar is in aanvraag by voerkrale. Om die potensiële nadelige effek op toekomstige reprodukisepotensiaal te beperk, behoort vervangingsooitjies ook nie gewig te verloor met speen nie. Daarom behoort ons alles in ons vermoë te doen om die speenproses so glad moontlik te laat verloop en speenskok so vêr as moontlik te minimaliseer.

 

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Verwante Artikels
Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

VERWANTE PRODUKTE

Flukazole C

Read more

Multimin® + Se Cattle, Sheep and Angora Goats

Read more

Multimin® + Se + Cu Sheep and Angora Goats

Read more

Multimin® + Se Sheep and Angora Goats

Read more

Prodose® Orange

Read more

Virbamax First Drench™

Read more