Health Care

Score5 (1 Votes)

Voorbereiding van Koeie vir die Dekseisoen

Alhoewel die fondasie van ‘n suksesvolle teelseisoen reeds vroeër as 8 weke voor die aanvang van die teelseisoen gelê word, kan hierdie tyd met reg as die begin van die 22 maande siklus van “Bevrugting tot Benutting” gesien word, aangesien dit alles met suksesvolle bevrugting begin. 

Indien dinge nie hier vlot verloop nie, kan dit tot gevolg hê dat koeie nie herbeset gaan raak in ‘n vaste (90 dae) teelseisoen nie, of dat koeie eers baie laat in die dekseisoen beset raak. Uiteindelik lei dit tot ‘n verlengde interkalfperiode met gepaardgaande ekonomiese verlies, wat allermins bekostg kan word! 

Die volgende areas verg die nodige aandag:

1.  Voeding en Kondisie

Die kondisie van koeie in aanloop tot die dekseisoen is van kardinale belang om sukses gedurende die dekseisoen te verseker. Gedurende hierdie tyd (tussen kalwing en die dekseisoen) gebeur die volgende:

  • koeie se melkproduksie styg
  • koeie se reserwes word getap
  • koeie verloor massa en kondisie (veral as die voedingsomstandighede en/of aanvulling nie na wense is nie) 

Koeie verloor maklik een kondisepunt in hierdie tyd. Indien hulle in ‘n ideale kondisietelling van 3,5 gekalf het, kan dit afkom na 2.5 (en selfs minder onder moeilike omstandighede). Dit is van kardinale belang om hul kondisie weer terug te kry na ‘n minimum van 3 en verkieslik 3.5 teen die tyd dat die dekseisoen begin.

Indien koeie se kondisie onder 2.5 daal, sal hulle spesiale aandag in terme van hulle voeding moet ontvang. Beter weiding en/of aanvullende voeding soos hooi of kuilvoer, tesame met ‘n produksielek kan help. Alhoewel dit nie goedkoop is nie, is dit nodig om ‘n goeie besetting in die komende dekseisoen te verseker.

Indien dit nie gedoen word nie is die volgende jou voorland:

  • koeie raak eerder later as vroeër in die dekseisoen beset
  • koeie kan selfs glad nie in die dekseisoen beset raak nie
  • interkalfperiode verleng
  • kalwers speen ligter (‘n kombinasie van melkproduksie en kalwers wat laat gebore word in die volgende kalfseisoen)

Dit beklemtoon weereens die belangrikheid dat koeie in ‘n goeie kondisie moet wees met kalwing. Dit is makliker en goedkoper om koeie se kondisie vanaf speen tot en met kalwing te onderhou of te verbeter, as om op hierdie laat stadium drastiese stappe te moet neem om hul kondisie reg te stel! 

In figuur 1 kan die uitwerking van kondisietelling met aanvang van die dekseisoen op besetting gesien word:


Figuur 1: Die verhouding tussen kondisietelling met dek en besetting

     
Figuur 2 is ‘n voorbeeld van ‘n koei in ‘n aanvaarbare kondisie met aanvang van die dekseisoen, terwyl die koeie in figuur 3 se kondisie nie na wense is nie.

        
Figuur 2: Kondisie reg vir dekseisoen                 Figuur 3: Kondisie nie na wense vir dek          


Raadpleeg 'n voedingsdeskundige oor die beste opsies vir die spesifieke omstandighede as koeie se kondisietelling verbeter moet word.

2.  Geslagsgeskiktheid

Siektetoestande kan al die ander bestuursinsette om ‘n goeie besettingsyfer en kalfpersentasie te behaal ongedaan maak! 

Indien ‘n skielike afname in besetting/kalfpersentasie ervaar word of kalfpersentasie oor die langtermyn laag bly ten spyte van goeie kondisie, moet ons uitkyk vir die volgende:

2.1  Vibriose (Campylobacter fetus)

Dit is ‘n geslagsoordraagbare siekte waar die koeie deur besmette bulle aangesteek word. Die mees algemene simptome by die koeie is aborsies, lae besettingsyfers, verlengde kalfintervalle en baarmoederinfeksies. Koeie ontwikkel wel later immuniteit maar dit is nie permanent nie.

Bulle is asimptomaties (wys nie simptome nie), dien as draers en is die hoofbron van besmetting. Inenting voor die aanvang van die teelseisoen is ‘n opsie in positiewe kuddes.

2.2  Trichomoniase (Trichomonas foetus)

Dit is ook ‘n geslagsoordraagbare siekte waar die koeie deur besmette bulle aangesteek word. Die mees algemene simptome is resorpsies (vroeë verlies van dragtigheid), ‘n verlengde kalfinterval en aborsies (maar nie algemeen nie). Alhoewel die meeste koeie na ‘n paar siklusse selfgenesend raak, sal hulle heelwaarskynlik nie dragtig wees na afloop van die teelseisoen nie.

Slegs bulle kan getoets word. Bulle wat positief is moet geslag word. Behandeling is baie moeilik, duur en nie altyd effektief nie. Vervang bulle met jong bulle wat vir die eerste keer gebruik word vir teling (of doen KI).

2.3  Besmetlike misgeboorte / Brucellose (Brucella abortus)

Dit is een van die belangrikste oorsake van swak kalfpersentasies! NB. Die siekte is ook ‘n soönose - siekte wat van diere na mense oorgedra kan word - hoofsaaklik dmv ongepasteuriseerde (rou) melk en blootstelling wanneer aborsies, doodgebore kalwers en vassitnageboortes sonder handskoene hanteer word. Daarom is dit ook ‘n beheerde siekte en moet aangemeld word by die staatsveearts.

Hierdie keer is dit nie die bulle wat die siekte oordra nie. Koeie doen die siekte op deur middel van omgewingskontaminasie. Die pasgebore kalf, die nageboorte en die  vrugwater van positiewe koeie bevat baie bakterië en dien as hoofbron van besmetting. Koeie aborteer gewoonlik een keer en kan daarna normaal kalf - MAAR - bly altyd ‘n draer en bron van besmetting.

Toets die kudde op ‘n gereelde basis vir die teenwoordigheid van besmetlike misgeboorte, veral as daar positiewe kuddes in die nabye omgewing voorkom. Biosekuriteit is van kardinale belang. Alle nuwe diere wat ingekoop word, moet brucellose-vry gesertifiseerd wees. Hou grensheinings in goeie toestand.

Entstowwe is beskikbaar om aborsies te voorkom, maar kan nie die siekte genees nie! Volgens wet, moet alle verse ingeênt word:

  • S19 - verse moet voor die ouderdom van 8 maande ingeent word
  • RB51 - mag (behoort) gebruik te word op
    • Verse - meer as eenkeer vanaf 4 maande tot en met eerste teling 
    • Koeie - slegs op nie-dragtige koeie (kan aborsies veroorsaak)

3.  Inentings

3.1 Gemodifiseerde “lewendige” entstowwe

Inenting behoort nie nader as 30 voor die teelseisoen gedoen te word nie. Verder is belangrik om te onthou dat die immuunrespons van koeie nie optimaal is gedurende die eerste 30 dae na kalwing nie.

Dit laat ons dus net met ‘n maand om sogenaamde “lewende” entstowwe te gee bv:

BVD, IBR, PI₃, BRSV kombinasie, Slenkdalkoors, Knopvelsiekte, Drie-dae-stywesiekte. Besmetlike Misgeboorte (RB51) kan ook aborsies veroorsaak en moet dus voor-dek geênt word.


NB. Onthou dat verkieslik nie meer as een “lewende” entsof gelyktydig toegdien moet word nie.


3.2 Geïnaktiveerde (“dooie”) entstowwe

Kan / behoort nader aan die teelseisoen gegee te word bv: Vibriose en “Pienkoog”

4.  Spoorminerale

Spoorminerale speel ‘n baie belangrike rol in vrugbaarheid van koeie, veral sink (Zn), mangaan (Mn), koper (Cu) en selenium (Se). Chroom (Cr) kan ook help met verbeterde energiemetabolisme, wat kondisie mag bevoordeel. 

Gedurende kalwing, verloor die koei ‘n derde van haar spoormineraalreserwes deur middel van die kalf, die plasenta/nageboorte en die baarmoerdervloeistof.

Hoe gouer hierdie spoorminerale na kalwing weer aangevul word, hoe kleiner is die kans op ‘n spoormineraalgaping tydens die dekseisoen. In figuur 4 kan gesien word wat is die effek van ‘n inspuitbare spoormineraalaanvulling in die kritiese tye (voor- kalf en voor-dek) op die lewer se koperstatus.                            





 

 


 

 



Figuur 4. Lewer kopervlakke na strategiese Multimin aanvulling 
 

Aanvulling van spoorminerale dmv ‘n inspuitbare aanvulling (Multimin Se+Cu+Cr Cattle) voor die teelseisoen, kan lei tot:  

  • minder vroeë embrio-resorpsies
  • verbeterde besettingsyfer - minder droë koeie
  • meer koei wat vroeër in die teelseisoen beste raak - minder “oop dae” na kalwing, maw ‘n meer kompakte kalfseisoen
  • meer positiewe (korter) interkalfperiode

Die ideale tyd vir die voor-dek aanvulling (Multimin Se , Cu, Cr Cattle & ProVit A) is 4-6 weke voor die aanvang van die teelseisoen. Kombineer met inentings om hantering minder te maak en entstofreaksies te verbeter.


5.  Parasietbeheer

5.1 Inwendige parasiete:

Inwendige parasiete by beeste word oor die algemeen as 'minder belangrik' beskou. Alhoewel dit nie altyd so 'sigbaar' is soos by skape nie, kan inwendige parasiete 'n negatiewe uitwerking op die kondisie en prestasie van koeie hê. ‘n Proef gedoen deur Dr Meaker (1994), het gewys wat die effek van ontwurming op die reproduksie van eerstekalf verse en tweedekalf koeie was. (Figuur 5 & 6)


Figuur 5. Effek op reproduksie - 1ste kalf verse



Figuur 6. Effek op reproduksie - 2de kalf koeie


Veral lewerslak kan groot ekonomiese verliese tot gevolg hê. Benewens al die ander noodsaaklike funksies van die lewer, beïnvloed dit ook die produksie van hormone - wat van kritieke belang is in die aanloop tot die dekseisoen!

 

5.2 Uitwendige parasiete:

Behandel uitwendige parasiete (veral bosluise) soos nodig, om die oordrag van bosluisgedraagde siektes en meganiese skade aan die uier en spene te voorkom/te verminder. 'n Bosluislas kan ook die eetlus van beeste negatief beïnvloed. 

Vliegbeheer sal ook irritasie, wat 'n negatiewe uitwerking op groei en kondisie het, verminder.


6.  Algemene bestuursaspekte

Indien seleksie kan plaasvind, is dit nou ‘n goeie tyd om aan die volgende aandag te gee en koeie te merk wat nie weer by die bul te kom nie:

  • koeie wat laaste in die kalfseisoen kalf (hulle gaan heelwaarskynlik nie beset raak in die komende dekseisoen nie)
  • koeie wat nie goeie konstitusie het nie (swak kondisie, nog nie glad verhaar nie ens.)
  • koeie wat moeilike geboortes gehad het (pelvis te nou?) en moontlik baarmoederskade opgedoen het
  • koeie wat uier/speen probleme ontwikkel het
  • koeie wat swak moederseienskappe getoon het tydens kalwing
  • koeie wat se tande nie meer goed genoeg is is nie

Koeie wat vassit nageboortes gehad het moet ondersoek word vir vaginale uitskeiding/baarmoederinfeksie en vroegtydig behandel word.

Vervangingsverse - aangesien verse wat die eerste keer kalf, langer neem om weer in siklus te kom na eerste kalwing (80-100 dae), word dit aanbeveel dat verse ten minste ‘n maand voor die koeie by die bulle kom. 

Vote for this content: 5 4 3 2 1

VERWANTE PRODUKTE

Amipor®

Read more

Browse Plus®

Read more

Eliminate

Read more

Wirecide F

Read more

MultiDip

Read more

Multimin® + Se + Cu + Cr Cattle

Read more

Flukazole C

Read more

Multimin® + Se + Cu Cattle

Read more

Pro-Vit A

Read more

Multimin® + Se Cattle, Sheep and Angora Goats

Read more

Virbamec® L

Read more

Virbamec® LA

Read more

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?