Health Care

Score5 (1 Votes)

SKAAPBESTUUR VOOR-LAM: Parasietbeheer

Artikel 5 van 6 oor hierdie onderwerp

“CONCEPTION TO CONSUMPTION” - 'N PROGRAMBENADERING

 

Die effek van inwendigeparasiete is baie meer nadelig en ernstig by skape as beeste. Uitwendigeparasiete is weer in die algemeen ‘n minder ernstige probleem by skape. Luise en myte kan wel ‘n groot negatiewe impak op skape hê. Bosluise en insekte kan ook bydra tot siektetoestande en kondisies wat ‘n negatiewe finansiële invloed op winsgewendheid kan hê. 

Ramme kan baie maklik afgeskeep word indien belangrike aksies soos lamtyd aanbreek - veral as hulle nie onder gereelde toesig is nie. Dit kan daartoe lei dat ramme ‘n knou kry wat hul kondisie en vrugbaarheid negatief kan raak.

 

  • Inwendigeparasiete

Seisoen en area sal ‘n groot rol speel in die nodigheid vir, en parasiete te beheer. Die teenwoordigheid van inwendigeparasiete in laatdragtigheid kan daartoe lei dat ooie se eetlus afneem, voerinname verlaag, lamontwikkeling benadeel word in ‘n tyd wat maksimum groei moet plaasvind en ooie se kondisie kan laat afneem, wat uierontwikkeling, bies- en melkproduksie kan benadeel.

By wolskape kan selfs die wolproduksiepotensiaal van die ongebore lammers negatief beïnvloed word indien die ooi ‘n hoë parasietlading het. Die ontwikkeling van die lam se wolfollikels wat in laatdragtigheid plaasvind, kan gestrem word indien die ooi se voedingstof inname en kondisie as gevolg van ‘n hoë parasietlading daal.

Daarom word dit as standaard aanbeveel om ooie in laatdragtigheid (laaste maand voorlam), met ‘n breëspektrummiddel te behandel wat ook nawerking teen haarwurm bied. Dit word ‘n strategiese dosering genoem. Die nawerking kan ook help dat ooie (normaalweg) nie tydens die lamtyd gedoseer hoef te word nie. 

Neuswurmbeheer is ook belangrik aangesien ooie hul reuksintuig gebruik om met hul lam(mers) te bind na die geboorteproses. Ooie kan met lintwurm besmet wees. Alhoewel dit nie dieselfde negatiewe effek op volwasse skape het as op lammers nie, kan die ooie die weiding met lintwurmeiers besmet. Lewerslak beïnvloed die werking van die lewer wat op feitlik alle liggaamsprosesse ‘n negatiewe invloed kan hê - veral proteïen- en energiemetabolisme wat in hierdie tyd krities is!

In laatdragtigheid ontwikkel ooie ‘n toestand wat in Engels as “PPRR” bekend staan. PPRR is die afkorting vir “periparturient relaxation of resistance”, en word vermoedelik deur hormonale veranderinge in die ooi in laatdragtigheid geaktiveer. Dit het tot gevolg dat die weerstand van ooie teen parasiete verlaag en parasietgetalle laat toeneem.

 

Neem mismonsters met dosering vir die bepaling van miseiertellings en 10 dae later weer van dieselfde skape, om seker te maak dat die middel wat gebruik is, doeltreffend was.  

 

Wat jy nie kan sien nie, kan jou kos!

 

 

  • Uitwendigeparasiete

Alhoewel uitwendigeparasiete in die algemeen nie vroeg in die seisoen ‘n groot uitdaging bied nie, moet die voorkoms daarvan dopgehou word en volgens behoefte beheer word.

Bosluise kan aanleiding gee tot skape wat kruppel word en hoefinfeksie opdoen. Dit sal die ooi se loopvermoë negatief raak en inname van voer benadeel, met al die negatiewe gevolge daarvan soos reeds hierbo bespreek.

Luise en myte (skaapbrandsiekte) kan ook geweldige irritasie tot gevolg hê wat dringende beheer sal vereis.

Insekte (muggies) is gewoonlik later in die seisoen - middel- tot laatsomer, ‘n groter uitdaging. Dit is verantwoordelik vir die oordrag van virale siektes soos bloutong en slenkdalkoors. Aangesien die beheer van insekte in ekstensiewe omstandighede baie moeilik is, moet inentings so spoedig moontlik na lam gedoen word om hierdie siektes sovêr moontlik te voorkom - veral in hoëreënval jare wanneer die kanse op hierdie siektes verhoog.

 

Moet nie die negatiewe impak van uitwendigeparasiete onderskat nie!

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?