Health Care

Score0 (0 Votes)

SKAAPBESTUUR VOOR-LAM: Voeding & Kondisie

Artikel 2 van 6 oor hierdie onderwerp

“CONCEPTION TO CONSUMPTION” - 'N PROGRAMBENADERING

Laatdragtigheid (2 maande voor-lam) is ‘n goeie tyd om die kondisie van die ooie te bepaal en voedingsaanpassings te maak indien nodig. Ooie met langwol kan jou flous en die kondisie laat oorskat! Dit is dus belangrik om nie net uiterlik te kyk na hoe die ooie lyk nie, maar fisies te voel. Begin eerder vroeër as later om die kondisie van ooie te verbeter! Soos reeds genoem wil ons graag die ooie in ‘n minimum kondisiepunt van 3.5 laat lam. 

 

Die voeding/kondisie van die ooie voor/tydens lam is vir die volgende redes van kardinale belang:

  • Ontwikkeling van die ongebore lam(mers):

Ons weet dat die meeste fetusgroei (75%) in die laaste 4-6 weke van dragtigheid plaasvind. Die voeding van die ooi moet instaat wees om die ongebore lam(mers) ten volle te laat ontwikkel EN die kondisie van die ooi te onderhou of te laat toeneem. Dit is veral van kritiese belang by ooie wat meerlinge dra! Dit sal die oorlewingsvermoë (lewenskragtigheid) van die lam(mers) bevoordeel - veral tydens ongure weersomstandighede tydens geboorte.

Geboortemassa is krities vir die oorlewing van pasgebore lammers. Alhoewel ras en geboortestatus ‘n rol speel, blyk dit dat die optimale geboortemassa vir onderskeidelik enkel-, twee- en drielinglammers ongeveer 5.5 kg; 5 kg en 4kg te wees, met 3.5kg as absolute onderste grens.

Alhoewel nie ‘n algemene probleem nie, kan oorvoeding gedurende hierdie tyd  nadelig wees. Dit kan daartoe lei dat die geboortemassa van die lammers sodanig  toeneem (veral enkel fetusse), dat probleme met moeilike geboortes kan voorkom.

 

  • Invloed op herkonsepsie:

Ooie moet teen lam in die ideale kondisie wees om goeie herkonsepsie te verseker. Dit is nie net van belang in versnelde lamstelsels waar dit uiters krities is nie, maar ook in 12 maande lamstelsels. Dit is bewys dat ooie wat tydens lam nie in ‘n goeie kondisie is nie, se besetting laer is met die volgende paring - selfs al is die ooie dan in ‘n ideale kondisie!

 

  • Invloed op uierontwikkeling, bieskwaliteit en melkproduksie:

Voeding in laatdragtigheid het ‘n direkte invloed op uierontwikkeling. Uierontwikkeling het weer ‘n invloed op biesmelkproduksie (kwantiteit en kwaliteit), asook melkproduksie tydens laktasie. Uierontwikkeling en biesproduksie kan nie deur voeding na afloop van lam reggestel word nie. Melkproduksie kan tot ‘n mate aangehelp word deur goeie voeding na afloop van lam.

Die voorsiening van byvoeding wat ‘n hoë persentasie verbyvloeiproteïen bevat in die laat fase van dragtigheid is belangrik vir goeie uierontwikkeling en biesproduksie. Byvoeding wat hoë vlakke van ureum in hierdie fase bevat, kan lei tot swakker uierontwikkeling. Die voorkoms van dik/taai bies wat moeilik is vir lammers om in te neem, word  geassosieer met byvoeding wat hoë vlakke van ureum bevat en/of waar ooie ‘n hoë-energiedieet (grane) ontvang sonder genoeg verbyvloeiproteïen.

 

  • Voorkoms van metaboliese siektes

Ooie wat se kondisie nie voldoende is in laatdragtigheid nie, kan maklik “domsiekte” - veral ooie wat meerlinge dra wat die rumenspasie nog verder beperk. Domsiekte ontwikkel wanneer die voeding van so ‘n aard is (swak kwaliteit en/of kwantiteit), dat ooie hulle eie liggaamsvet moet afbreek om in hul eie en die ongebore lammers se voedingsbehoefte te probeer voorsien. 

‘n Energietekort lei tot lae bloedglukosevlakke en bloedglukose is nodig om vet af te breek. Indien daar reeds ‘n tekort aan bloedglukose is, word die liggaamsvette nie ten volle tot energie afgebreek nie en word ‘n afbouproduk, wat tydens die afbreekproses gevorm word, omgesit na ketone wat dan in die bloed ophoop. Die lae bloedglukosevlak tesame met die ophoping van ketone in die bloed gee aanleiding tot ‘n kliniese toestand wat algemeen bekend is as “domsiekte”. ‘n Sekondêre gevolg van die siekte is lewerbeskadiging en aantasting van die senuweestelsel.

Domsiekte is ‘n baie ernstige toestand en ooie wat dit ontwikkel oorleef dit nie maklik nie.

 

  • Indien ooie in lamhokkies lam, moet hulle ‘n twee tot drie weke voor die verwagte lamdatum gewoond gemaak word aan die rantsoen wat hulle in die lamhokkies gaan ontvang. ‘n Skielike verandering in voer, kan lei tot voedingsteurnise soos asidose (suurpens) en diarree wat ten alle koste vermy moet word, aangesien dit die ooie se bies- en melkproduksie negatief gaan raak en lammortaliteite gaan verhoog

 

  • Follikel ontwikkeling - van die fetus word direk deur voeding van die ooi beïnvloed:

    • reproduksie - dit is belangrik om te onthou dat die leeftydgetal follikels in die eierstokke van ooilammers, reeds 50 dae voor hul geboorte in hul eierstokke neergelê word. Daarom is die voeding van dragtige ooie noodsaaklik in die bepaling van die leeftyd- reproduksietempo van hul ooilammers

    • wolproduksie - by wolskape word die wolproduserende follikels reeds van voorgeboorte tot kort na geboorte vasgelê en ontwikkel.  Primêre follikels (sterker vesels) ontwikkel vanaf 50-90 dae van dragtigheid en sekondêre follikels (fyner vesels) vanaf 90 dae van dragtigheid tot kort na geboorte. 

 

Indien die ooie dus 8 weke voor die lamseisoen ‘n kondisiepunt van 2.5 of minder het,  moet hulle voeding drasties aangepas word - veral indien daar nog nie goeie weidings- toestande heers (kwaliteit en kwantiteit), of vooruitsigte daarvoor is nie . Die voorsiening van goeie kwaliteit hooi/kuilvoer en/of ‘n produksielek kan help om die kondisie te verbeter. Bespreek die aanvulling en inname daarvan met ‘n voedingkundige om seker te maak dit effektief sal wees.

 

Die insluiting van ‘n verteringsmodifiseerder (indien dit nie reeds deel van die aanvulling is nie), is hoogs aan te beveel wanneer voedingstoestande marginaal is. Indien dit reeds ingesluit word, moet seker gemaak word dat die inname in hierdie tyd ten minste 2g/d/ooi is om maksimum effek te hê.

 

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

VERWANTE PRODUKTE

Browse Plus®

Read more