Health Care

Score5 (3 Votes)

Doeltreffende Bosluisbeheer – “The basics”

Bosluise is ekonomies plaasdiere se noemenswaardigste eksterne parasiete. Hoë uitdagings van  bosluise rig direkte skade aan (bloedverlies, laer lewendige gewigstoename, laer melkproduksie en swakker huidgehalte) en indirekte skade (bosluisoordraagbare siektes soos rooiwater, hartwater, anaplasmose en sweetsiekte).

Doeltreffende bosluisbeheer het winsgewende beesboerdery tot gevolg. Daarsonder sou dit bykans onmoontlik gewees het om met beeste te boer in groot gedeeltes van die land waar hoë getalle enkel- en meergasheerbosluise voorkom.

Om ’n omvattende eksterne parasietbeheerstrategie te kan beplan, moet boere oor die volgende inligting aangaande hulle plase beskik:

  • Die parasiet.
  • Seisoenale voorkoms.
  • Produkkeuse.
  • Bosluisbeheerprogram.

 

Die Parasiet:

In Suid-Afrika is daar 85 veskillende spesies Ixodidae (skildbosluise) en 21 Agasidae (sagte bosluise) geïdentifiseer. Die volgende is van ekonomiese belang vir veeboere:

  • Bloubosluise.
  • Rooipootbosluise.
  • Bontpootbosluise.
  • Bruinoorbosluise.
  • Karooverlammingsbosluise.
  • Bontbosluise.

Hulle het almal verskillende lewensiklusse en enigiets van een tot drie gashere. Die lewensiklus het vier duidelike stadiums van ontwikkeling: eier, larwe, nimf en volwassene. Afhangend van die bosluisspesie, kan die verskillende stadiums oorleef op die veld vir tot so lank as ses tot agt maande sonder ’n gasheer.

  

 

Om te onderskei tussen die verskillende spesies moet ’n mens kyk na hulle grootte, monddele en patrone/kleure. Al die volgesuigde wyfies is geneig om soortgelyk te lyk oor ’n afstand (blougrys in kleur) en kan almal met bloubosluise verwar word.PHOTO545

Sodra jy al die spesies geïdentifiseer het wat op jou plaas voorkom, kan jy jou dipmetodes en -frekwensie aanpas om hulle getalle in bedwang te hou, wat sal help om uitbreke van bosluisoordraagbare siektes te bekamp – en die skade wat dit aanrig.

 

Seisoenale Voorkoms

Kennis van die seisoenale voorkoms van ’n bosluisspesie wat op die plaas geïdentifiseer is is ’n belangrike faktor in die suksesvolle beheer van eksterne parasiete deur die bosluisgetalle te verminder, byvoorbeeld:

  • Enkelgasheerbosluise: Alhoewel die hoeveelheid bosluise nog tussen Oktober en Desember laag mag wees, moet boere ’n strategiese dipprogram implementeer gedurende hierdie tyd om die hoë bosluisbevolkings wat van Februarie tot Mei voorkom te verminder. Om dit in perspektief te plaas, hou in gedagte dat elke volgesuigde wyfie tussen 2500 en 3500 eiers lê. Selfs al oorleef slegs 200 bosluise en lê eiers van Oktober tot Desember, sal daar meer as 400 000 larwes uitbroei binne die volgende 30 tot 60 dae. Deur hulle getalle te verminder gedurende die piek vroeg in die somer (deur die hoeveelheid wyfies wat eiers kan lê te verminder), verlaag ons die piek later in die somer. Van Februarie tot Mei sal die diptussenposes dalk verkort moet word waar nodig om die hoeveelheid bosluise onder bedwang te hou.

 
  • Multigasheerbosluise: Om die skade wat multigasheerbosluise soos rooipoot-, bontpoot- en bruinoorbosluise aanrig te bekamp, moet boere ’n strategiese winterdipprogram gedurende Julie/Augustus implementeer om die hoeveelheid larwes op die diere te verminder. Opvolgbehandelings gaan nodig wees gedurende die pieksomermaande (November/Desember). Diptussenposes kan korter gemaak word waar baie bosluise voorkom.

 

Produkkeuse en bosluisbeheerprogram:

’n Aantal produkte met verskillende handelsname is beskikbaar in die vorm van ’n opgietmiddel, ’n dip (spuitdip/dompeldip) en ’n inspuitbare middel. Hierdie produkte verteenwoordig vyf chemiese groepe, naamlik organofosfate, sintetiese piretroïedes (soos sipermetrien), formamidines (soos amitras), makrosikliese laktone (soos ivermektien) en chitiensintese-inhibeerders of groeireguleerders. Die geskikte produk en toedieningsmetode sal afhang van die tipe bosluise wat op jou plaas voorkom en die hoeveelheid diere wat gedip moet word:

  • Opgietmiddel: Maklik om toe te dien maar in die algemeen duurder. Dit is kostedoeltreffend as diere slegs drie of vier keer per jaar behandel moet word of as ’n winterbehandeling.
  • Spuitdip: Baie doeltreffend, veral vir baie bosluise. Met ’n spuitdip kan die aktiewe bestanddele gereeld afgewissel word om weerstandigheid te voorkom waar diere gereeld gedip word. Maak seker dat die diere behoorlik deurnat is.
  • Dompeldip: Die doeltreffendste en mees koste-effektiewe dipmetode wanneer jy groot troppe gereeld moet dip. Die dompeldip moet behoorlik bestuur word vir goeie resultate.
  • Inspuitbare dip en insekgroeireguleerders: Moet deel uitmaak van die bosluisbeheerstrategie in gebiede met baie bosluise as ’n manier om die aktiewe bestanddele af te wissel om sodoende met bosluisbeheer te help. Dit moet altyd saam met kontakdipmiddels gebruik word soos bo beskryf.

 

Ander faktore om in ag te neem met ’n bosluisbeheerstrategie:

 

  • Dier:
    • Tipe ras en haarkleed (lang/kort hare): Bos indicus / korthaarrasse is meer geskik vir areas met baie bosluise. Bos taurus / langhaarrasse moet meer gereeld gedip word.
    • Diere se ouderdom, immuniteitstatus en stresvlakke: Diere met hoë stresvlakke tesame met lae immuniteitsvlakke is meer vatbaar vir bosluisoordraagbare siektes.
    • Toe/oop trop: As jy diere van ander areas koop, dip hulle voordat jy hulle by jou trop voeg. 
  • Omgewing:
    • Reënval en temperature: Reën en hoe humiditeit en temperature skep gunstige omstandighede vir bosluisbevolkings om te vermeerder.
    • Die lengte van die gras: Lang, nat gras kan die dip van die diere afvee en die doeltreffendheid daarvan verminder. Lang gras dra by tot hoër bosluisgetalle.
    • Die grootte van die eiendom en die teenwoordigheid van wilde diere: Op ekstensiewe, laedigtheidsplase behoort bosluisgetalle laer te wees. Wilde diere kan verkose gashere wees vir multigasheerbosluise en bydra tot die bosluisgetalle op die plaas.
  • Bestuur:

    • Die plaas se historiese bosluisbeheer en -weerstand, die algehele/taktiese strategiese bosluisbeheer, die gebruik van inentings teen bosluisoordraagbare siektes en die beweging van diere na kampe wat laat rus is: Al hierdie inligting moet in ag geneem word wanneer daar op beheermiddels en produkte besluit word ten einde doeltreffende beheer te verseker.


60092309CM

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?

Verwante produkte

Amipor®

Read more

Eliminate

Read more

MultiDip

Read more

Virbamec® LA

Read more