Health Care

Score0 (0 Votes)

Die effek van ‘n inspuitbare spoorelement aanvulling tydens die voorbereiding van ooie voor paar en lam

Artikel geskryf deur: Dr Hensie Lategan van Bredasdorp Dierekliniek

Optimale voorbereiding van ooie voor lam en voor paar is van uiterste belang om die ooi en lam se volle potensiaal rakende konsepsie, embrio oorlewing, oorlewing van die ooi en pasgebore lam sowel as die groei van die pasgebore lam te ontwikkel. Die voorbereiding sluit verbeterde voeding, parasietbeheer, inentings, uier ondersoeke en ook spoorelement en vitamien aanvullings in.

Die meeste navorsing in Suid-Afrika oor die positiewe effek van spoorelemente in skape is reeds baie lank terug gedoen. Vanweë die toenemende belangstelling in spoorelemente is daar nou nuwe internasionale navorsingsresultate wat beskikbaar is. Spoorelemente soos Sink, Koper, Selenium en Mangaan is noodsaaklik vir die normale metaboliese prosesse van skape. Hulle vorm onder andere deel van verskeie ensiemstelsels wat die nadelige effekte van oksidatiewe stres verhoed.

Tydens die normale gebruik van suurstof in die sel word verskeie vryradikale gevorm. Die vryradikale is deel van die dier se normale metabolisme en speel selfs ‘n rol in die normale immuunstelsel. Sodra daar egter ‘n wanbalans tussen vryradikale en antioksidante (o.a. spoorelement-bevattende ensieme) ontstaan, word die sel aan oormatige oksidatiewe stres blootgestel met nadelige effekte op selfunksie en seloorlewing. 


‘n Balans tussen vryradikale en antioksidante is dus noodsaaklik vir vrugbaarheid, embrio oorlewing, plasenta ontwikkeling, immuniteit en die ontwikkeling van ‘n gesonde en sterk gebore lam. Tydens embrio ontwikkeling en ook tydens die laaste ses weke voor lam, verhoog die aanvraag dus vir spoorelemente. Deurlopende orale spoorelement aanvulling dmv lekke en byvoeding bly noodsaaklik, maar tydens hierdie kritiese tye van verhoogde aanvraag oorkom ‘n inspuitbare middel die probleem van wisselvallige inname tussen diere en wisselende absorpsie van spoorminerale vanuit die dermkanaal. Verhoogde embrio-, lam- en ooi oorlewing verhoog nie net die boer se inkomste nie, maar het ook ‘n positiewe effek op die skape se welsyn.

 

Navorsing vanuit Australië wat in 2023 gepubliseer is, wys op verskeie positiewe effekte van spoorelement aanvulling in die ooi se voorbereidingsfases. Die navorsing is op vyf kommersiële plase in Victoria, Australië gedoen. Altesaam 1484 gemengde ras ooie was in die proef gebruik. Hulle gemiddelde spoorelement status was binne normale perke. Sommige diere in die groep het wel marginale waardes getoon. Op geen van die plase is enige tekens van spoorelement tekorte of vergiftiging in die voorafgaande 2 jaar waargeneem nie.

Die ooie is lukraak in twee groepe verdeel. Een groep kry ‘n inspuitbare spoorelement preparaat (Multimin+Koper vir skape) 30 dae voor paar en weer 30 dae voor lamtyd. Die kontrole groep het geen aanvulling ontvang nie.
 
Ongeveer 90 dae na paartyd is die ooie gesonar om dragtigheid en konsepsietempo te bepaal. Lamvrektes is 4 weke na geboorte bepaal en lammers is 12 weke na geboorte geweeg. Ooi vrektes is tydens die verloop van die proef ( September 2018 – November 2019) aangeteken.

Alhoewel daar in hierdie proef geen verskil in konsepsie* was nie (die gemiddelde konsepsie tempo in beide groepe was 156%, is die volgende verskille aangeteken:

  • Lamoorlewing tot en met 4 weke na lam, was 9% hoër in die behandelingsgroep
  • Teen 12 weke na lam, was die lammers in die behandelingsgroep gemiddeld 2.3 kg swaarder as  die kontrolegroep
  • Alhoewel nie statisties nie, was die ooivrektes in die  behandelingsgroep 1.3% laer

‘n Ekonomiese analise wys op ‘n ekstra inkomste van Au$ 23 per ooi in die behandelde groep. Die ekstra inkomste is sonder dat die laer ooi vrektes in ag geneem is. Die studie bewys dat ‘n inspuitbare spoorelement aanvulling voor lam- en paartyd lamoorlewing,
speengewig en profyt verhoog. Daarmee saam kom ook verbeterde diere welsyn.

In ‘n proef ‘n paar jaar vroeër op 4 plase met altesaam 3829 Merino ooie in Suid Australië, Wes Australië en Victoria, was daar wel ‘n verbeterde konsepsietempo gevind. Die konsepsietempo van die kontrolegroep was 117%, teenoor 126% in die behandelingsgroep. Daar was ook 1.9% meer droë ooie in die kontrole groep teenoor die behandelde groep.)

Dit beklemtoon die behoefte aan meer navorsing om betekenisvolle afleidings te maak. Dit is omdat plase, gebiede en omstandighede van jaar tot jaar verskil. Australië beoog om opvolgproewe uit te voer om huidige data te verifieër en te versterk.

 

Verwysing:
Gonzalez-Rivas, P.A. et al. (2023) “A Trace Mineral Injection before Joining and Lambing Increases Marking Percentages and Lamb Weights on Diverse Farms in Victoria, Australia,” Animals : an Open Access Journal from MDPI, 13(1). Available at: https://doi.org/10.3390/ani13010178.
 

Related products
Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?