Health Care

Score2.5 (13 Votes)

Voorbereiding van skaapooie voor paartyd

Korrekte voorbereiding van jou ooie in die maand voor paartyd kan ’n positiewe uitwerking op die ooie se bevrugting en dus lampersentasie hê. Dit verbeter outomaties speenpersentasie, wat beteken dat daar meer lammers is om te bemark, sowel as ’n groter seleksiepoel vir vervangingsooitjies. 

 

Skape is inherent seisoenale telers en is op hul vrugbaarste wanneer die dae begin korter raak (die herfsmaande). Die meeste kuddes word egter as ’n geheel of ’n gedeelte buite die optimale teelseisoen gepaar, bv. die lentepaarseisoen. Met die regte voorbereiding, kan die negatiewe uitwerking van buiteseisoenteling in ’n groot mate oorkom word.  

 

Voeding

 

Ooie in ’n goeie kondisie (3 tot 4) sal altyd beter voortplant as ooie wat te maer (<2,5) of oorvet (>4) is. Dit is die vertrekpunt om goeie bevrugting te verseker. Daarna kan prikkelvoeding gebruik word om ooie in ’n stygende groeifase te kry. Naas die teelseisoen, het dit die mees vername positiewe uitwerking op lampersentasie. Die ooie moet in die drie weke voor paartyd op ’n goeie voedingspeil geplaas word sodat hulle gewig konstant toeneem. Dit kan in die vorm van goeie weiding of byvoeding gedoen word. Sorg egter dat hulle nie oorvet gemaak word nie. 

 

Sorg dat hulle vlakke van spoorelemente en vitamiene A en E optimaal is. Alhoewel skape deur die jaar spoorelemente in hul weiding en lekke inneem, is dit bewys dat ’n optopaanvulling met bv. Multimin® en vitamiene A en E vier weke voor paartyd, ’n positiewe uitwerking op bevrugting het.

 

Parasietbeheer

 

Afhangend van faktore soos die klimaat, seisoen en weidingstipe, kan ontwurming hier ook van groot waarde wees. Dit kan amper as deel van die prikkelvoedingeffek beskou word, deurdat die nadelige uitwerking wat die inwendige parasiete op die ooie mag hê (bv. bloedarmoede, verlaagde eetlus, diaree, irritasie, neuswurm, ens.) uit die weg geruim word. ’n Middel met nawerking kan voordelig wees in dié opsig dat ’n mens nie gedurende die paartyd die ooie onnodig wil hanteer nie. Hantering en gepaardgaande stres gedurende paartyd kan lei tot resorpsies en ’n laer lampersentasie.

 

Entings

 

Sorg dat die nodige entings wat voor paartyd nodig is, soos bv. ensoötiese aborsie, bloednier, bloutong, ens. op datum is. Moenie enige lewendige entstowwe binne die vier weke voor paartyd toedien nie!

 

Algemeen

 

Gaan die ooie se uiers na voordat hulle voorbereiding ’n aanvang neem en prul die ooie waarvan die uiers sodanig beskadig is dat hulle nie ’n lam of lammers sal kan grootmaak nie. Spandeer liewer tyd en geld op ooie wat optimaal by die voorbereiding kan baat. Gaan ook die pote van die ooie na en maak seker dat die kloutjies nie lank uitgegroei het of misvorm is nie. Stel dit eerder nou reg as gedurende paartyd.

 

Bek die ooie en maak seker dat ooie waarvan die tande al slyt uitgeskot word, veral in ekstensiewe omstandighede. Indien hulle nie behoorlik kan wei nie, gaan dit ’n negatiewe uitwerking op hulle kondisie hê, wat veral met lamtyd baie nadelig kan wees. Bies- en melkproduksie word nadelig geraak, asook die oorlewingsvermoë en speenmassa van die lam(mers).

 

Deur van koggelramme gebruik te maak, kan ooie veral in die buiteteelseisoen gestimuleer word om op hitte te kom. Dit verkort ook die lamseisoen wat weer bestuur makliker maak. Sit koggelramme by teen 2% van die ooigetal en nooit vir langer as tot so nege tot 11 dae voor die aanvang van die paarseisoen nie. Dit is belangrik dat die ooie verkieslik nie vooraf in noue kontak met ramme moet kom nie. Dit kan tot gevolg hê dat van die ooie op hitte kan kom, wat beteken dat indien hulle nie bevrug word nie, hulle teoreties in “teelrus” kan gaan wanneer die paaryd aanbreek.

 

Indien prakties, kan ooie ook nie korter nie as ’n maand voor paartyd geskeer word. Dit het ook ’n prikkeleffek wat tot beter bevrugting kan bydra. Vermy dit ten alle koste om gedurende paartyd te skeer.

 

Aangesien areas verskil, is dit altyd wys om jou plaaslike veearts, voedingskundige en Virbac Tegniese Verkoopsadviseur te raadpleeg om die gebruik van die regte produk en voeding te verseker.

Kontak u Virbac Tegniese Verkoopsadviseur

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Related Products