Health Care

Score0 (0 Votes)

BESTUUR VAN VLEISBEESKOEIE - VOORTEEL: Inleiding

Artikel 1 van 7 oor hierdie onderwerp

Alhoewel die fondasie van ‘n suksesvolle teelseisoen reeds vroeër as 8 weke voor die aanvang van die teelseisoen gelê word, kan die 4-8 weke in aanloop tot die teelseisoen, met reg as die begin van die 22 maande siklus van “Bevrugting tot Benutting” gesien word, aangesien hierdie tyd ‘n beduidende invloed op suksesvolle bevrugting gedurende die teelseisoen kan hê. 


Indien dinge nie hier vlot verloop nie, kan dit tot gevolg hê dat koeie nie herbeset gaan raak in ‘n vaste (maks. 90 dae) teelseisoen nie, of dat koeie eers baie laat in die teelseisoen beset raak. 


Koeie wat nie beset raak nie gaan eers weer met die volgende teelseisoen ‘n kans kry (of moet hulle?). Koeie wat eers laat in die teelseisoen beset raak gaan heelwaarskynlik nie met die volgende teelseisoen beset raak nie. Uiteindelik lei dit tot ‘n verlengde interkalfperiode met gepaardgaande ekonomiese verlies, wat allermins bekostg kan word! 


Goeie besetting tydens die teelseisoen is die sleutel tot winsgewende vleisbeesboerdery.  (Natuurlik moet dit opgevolg word met ‘n goeie kalfpersentasie en uiteindelik ‘n goeie speenpersentasie om die volle voordeel van goeie besetting te verseker). Die kalfpersentasie van kommersiële vleisbeeskuddes in Suid-Afrika is na beraming 62% tot 65% (Grobler et al, 2014; Bradfield, 2021). Dit beklemtoon net weereens die belangrikheid daarvan dat ons op al die fasette van die produksiesiklus moet konsentreer en nie iewers die “pap op die grond laat val” nie! Die nougesette bestuur van die kudde aan die hand van ‘n doelgerigte program is dus onontbeerlik om die beste kans op sukses te verseker. Daarom word die artikels in hierdie reeks van BESTUUR VAN VLEISBEESKOEIE opgebreek om die belangrikste produksiefases te dek.  


Die artikels vir die “voorteel” fase word aan die hand van die volgende onderwerpe bespreek soos aangedui in die ingeslote skematiese voorstelling: Voeding en Kondisie, Geslags-/Teelgeskiktheid; Enting, Spoormineraalaanvulling, Parasietbeheer en Algemeen

  1. Grobler SM, Scholtz MM, Greyling JPC en Neser FWC, 2014. Reproduction performance of beef cattle mated naturally following synchronisation in the central Bushveld bioregion of South Africa. S. Afr. j. anim. sci. vol.44 n.5

  2. Bradfield M, 2021. Optimaliseer voerhulpbronne met ’n gedefinieerde, kort dekseisoen. SIMM-biose, September 2021. Beskikbaar by Plaas Media (Edms) Bpk