Health Care

Score0 (0 Votes)

BESTUUR VAN VLEISBEESKOEIE - VOORTEEL: Teelgeskiktheid

Artikel 3 van 7 oor hierdie onderwerp


Siektetoestande kan al die ander bestuursinsette om ‘n goeie besettingsyfer en kalfpersentasie te behaal ongedaan maak! 


Indien ‘n skielike afname in besetting/kalfpersentasie ervaar word of kalfpersentasie oor die langtermyn laag bly ten spyte van goeie kondisie, moet ons uitkyk vir die volgende:

 


Vibriose
(Campylobacter fetus)


Dit is ‘n geslagsoordraagbare siekte waar die koeie deur besmette bulle aangesteek word. Die mees algemene simptome by die koeie is aborsies, lae besettingsyfers, verlengde kalfintervalle en baarmoederinfeksies. Koeie ontwikkel wel later immuniteit maar dit is nie permanent nie.


Bulle is asimptomaties (wys nie simptome nie), dien as draers en is die hoofbron van besmetting. Inenting voor die aanvang van die teelseisoen is ‘n opsie in positiewe kuddes.

 

Trichomoniase (Trichomonas foetus)


Dit is ook ‘n geslagsoordraagbare siekte waar die koeie deur besmette bulle aangesteek word. Die mees algemene simptome is resorpsies (vroeë verlies van dragtigheid), ‘n verlengde kalfinterval en aborsies (maar nie algemeen nie). Alhoewel die meeste koeie na ‘n paar siklusse selfgenesend raak, sal hulle heelwaarskynlik nie dragtig wees na afloop van die teelseisoen nie.
Slegs bulle kan getoets word. Bulle wat positief is moet geslag word. Behandeling is baie moeilik, duur en nie altyd effektief nie. Vervang bulle met jong bulle wat vir die eerste keer gebruik word vir teling (of doen KI).

 

Besmetlike misgeboorte / Brucellose (Brucella abortus)


Dit is een van die belangrikste oorsake van swak kalfpersentasies! NB. Die siekte is ook ‘n soönose - siekte wat van diere na mense oorgedra kan word - hoofsaaklik dmv ongepasteuriseerde (rou) melk en blootstelling wanneer aborsies, doodgebore kalwers en vassitnageboortes sonder handskoene hanteer word. Daarom is dit ook ‘n beheerde siekte en moet aangemeld word by die staatsveearts.
Hierdie keer is dit nie die bulle wat die siekte oordra nie. Koeie doen die siekte op deur middel van omgewingskontaminasie. Die pasgebore kalf, die nageboorte en die  vrugwater van positiewe koeie bevat baie bakteriëe en dien as hoofbron van besmetting. Koeie aborteer gewoonlik een keer en kan daarna normaal kalf - MAAR - bly altyd ‘n draer en dus ‘n bron van besmetting.


Toets die kudde op ‘n gereelde basis vir die teenwoordigheid van besmetlike misgeboorte, veral as daar positiewe kuddes in die nabye omgewing voorkom. Biosekuriteit is van kardinale belang. Alle nuwe diere wat ingekoop word, moet brucellose-vry gesertifiseerd wees. Hou grensheinings in goeie toestand.


Entstowwe is beskikbaar om aborsies te voorkom, maar kan nie die siekte genees nie! Volgens wet, moet alle verse ingeënt word. Die volgende entstowwe is beskikbaar:

  • S19 - verse moet eenmalig voor die ouderdom van 8 maande ingeënt word. Indien later geënt word, kan nie onderskei word tussen die entstof en die natuurlike besmetting nie! 

  • RB51 - mag (behoort) gebruik te word op

    • Verse - 2 tot 3 keer vanaf 4 maande tot en met eerste teling 

    • Koeie - slegs op nie-dragtige koeie (kan aborsies veroorsaak)

 

Naas siekte toestande moet koeie ook nagegaan word vir:

  • Tande - koeie wat se tande slyt en nie in ‘n goeie toestand is nie, behoort nie weer by die bul te kom nie. Alhoewel hierdie koeie dalk beset kan raak, kan hulle sukkel om in kondisie te kom vir die volgende kalwing en nie ‘n goeie kalf speen nie.
  • Uier/spene - koeie wat mastitis ontwikkel het of spene het wat beskadig is of nie funksioneel is nie (bv. “bottelspene”), moet liewer nie weer by die bul kom nie.
  • Pelvisopening - koeie wat gesukkel het om te kalf moet ondersoek word om seker te maak dat hulle pelvisopening nie te klein is nie. Indien wel, moet sulke koeie/verse nie weer by die bul kom nie.
  • Baarmoederinfeksie - maak seker dat koeie wat meilik gekalf het op baarmoerderinfeksie opgedoen het volkome herstel het voor die aanvang van die teelseisoen. Indien die infeksie nie ten volle opgeklaat is nie, kan sulke koeie sukkel om weer beste te raak.
     
VERWANTE PRODUKTE
Apply filter
  • Cattle
  • Sheep

Multimin® + Se + Cu + Cr Cattle

Read more

Multimin® + Se Cattle, Sheep and Angora Goats

Read more

Multimin® + Se + Cu Cattle

Read more