Hierdie is artikel 1 van 7 oor hierdie onderwerp
Alhoewel paartyd die amptelike begin van die “Conception to Consumption” siklus is, hang reproduksiesukses grootliks af van wat gebeur in aanloop tot die paarseisoen. Die laaste 4-8 weke voor die aanvang van die paarseisoen is krities vir sukses. Ons weet ook dat reproduksie die enkel belangrikste faktor is wat winsgewendheid van skaapboerdery bepaal. Daarom moet ons dus alles in ons vermoë doen om seker te maak dat beide die ramme en die ooie reg voorberei word vir die paarseisoen.
Die korrekte voorbereiding van ramme en ooie kan verseker dat maksimum bevrugting en embrio-oorlewing plaasvind. Indien die korrekte bestuur van die ooie na afloop van die paarseisoen, tot en met lam volgehou word, behoort ‘n goeie begin uiteindelik tot ‘n goeie lampersentasie, asook die persentasie meerlinge te lei.
Indien die mortaliteite vanaf lam tot en met speen beperk word, sal dit kulmineer in ‘n goeie speenpersentasie. ‘n Goeie speenpersentasie beteken dat daar meer lammers is om te bemark wat inkomste verhoog, sowel as ’n groter seleksiepoel bied vir die seleksie van goeie kwaliteit vervangingsooitjies.
Die onderwerpe wat in die voorpaar reeks behandel gaan word sluit in:
Onthou dat daar baie aspekte is wat ‘n rol speel om sukses te bereik. As ons na die onderstaande diagram kyk, is dit baie duidelik dat daar baie interaksies bestaan. Ons bespreek net ‘n paar van hierdie aspekte en die nader moet nie vergeet word nie! Onthou, die gesegde van “ ‘n ketting is net so sterk soos die swakste skakel” is ook van toepassing!
In ‘n kommersiële boerdery word WINSGEWENDHEID gedryf deur die UITSETTE (kg vleis/wol/haar) wat verkoop kan word , maal die PRYS waarteen dit verkoop word, minus die KOSTE aangegaan om die uitsette te produseer. As ‘n prysnemer, het die boer baie min beheer oor die prys wat hy vir die uitsette ontvang. Kostes kan tot ‘n mate bestuur word. Spandering moet oordeelkundig gedoen word en nie reproduksie en produksie benadeel nie (jy kan jouself bankrot spaar!). Die aspek wat die boer egter die meeste beheer oor het is die UITSETTE en ons gaan konsentreer op aspekte wat dit kan ondersteun.
UITSETTE word bepaal deur Reproduksie + Produksie - Mortaliteite.
Bestuur is van kardinale belang om “al die balle in die lug te hou”. Daarom is die beplanning en uitvoering van ‘n bestuursprogram van uiterste belang. Doen eers die basiese dinge reg voordat daar van al die tegnologiese hulpmiddels gebruik gemaak word. Een van die “basiese” dinge is die implimentering van ‘n vaste teelseisoen, om die regte ding op die regte tyd te kan doen!
