Hierdie is artikel 6 van 7 oor hierdie onderwerp
Die effek van inwendigeparasiete is baie meer nadelig en ernstig by skape as by beeste. Uitwendigeparasiete is weer in die algemeen ‘n minder ernstige probleem by skape, in die opsig dat skape nie deur bosluisoorgedraagde siektes aangetas word nie. Luise en myte kan wel ‘n groot negatiewe impak op skape hê agv die geweldige irritasie wat dit veroorsaak.
Om optimale kondisie te bereik en semen- en eiselproduksie te optimaliseer, behoort ramme en ooie vry van inwendige- sowel as uitwendigeparasiete te wees in aanloop tot die paarseisoen.
Ramme & Ooie
Inwendigeparasiete
‘n Breëspektrumdosering word algemeen aanbeveel om seker te maak die ramme en ooie in kondisie toeneem of goeie kondisie handhaaf in aanloop tot die paarseisoen. Die neem van mismonsters en/of die gebruilk van die FAMACHA sisteem (haarwurm), kan help om die graad van besmetting en die nodigheid van behandeling te bepaal. By ooie kan ook as “prikkel” dien deurdat die ooie sonder ‘n parasietlading optimaal kan groei en in kondisie toeneem.
In lewerslakgebiede is dit belangrik om die mees doeltreffende produk te gebruik om beide die onvolwasse en volwasse lewerslak effektief te beheer (Flukazole C). Bo en behalwe al die ander noodsaaklike funksies van die lewer, reguleer dit ook geslagshormoonproduksie (testosteroon/estrogeen) - wat nou van kritiese belang is.
By ramme is dit noodsaaklik om seker te maak dat hulle vry van neuswurm is met die aanbreek van die paarseisoen. Ramme gebruik hul reuksintuig om ooie wat op hitte (bronstig) is waar te neem. Indien hulle nie behoorlik kan ruik nie, kan hulle minder effektief wees.
Uitwendigeparasiete:
Bosluise - bosluise kan lei tot:
verlamming (Karooverlammingsbosluis) - voorkom dat ramme/ooie in kampe loop waar Karooverlammingsbosluis voorkom (gewoonlik ‘n herfs/winter probleem). Indien reeds aangetas - trek bosluise af en/of dip vir spoedige herstel (Pro-Dip™ Cyp 20 %).
“vrotpootjie” - wanneer bosluise met lang monddele tussen/by die kloutjies vasbyt en infeksie veroorsaak. Ramme/ooie wat kruppel raak gaan moeilik wei en kondisie verloor. Dood die bosluise en behandel die wonde gereeld totdat die infeksie opgeklaar het. Oorweeg gereelde voetdip indien dit ‘n voortdurende probleem is (Pro-Dip™ Cyp 20 %).
Myte en luise
Skaapbrandsiektemyt en rooiluise kan geweldige irritasie veroorsaak wat nadelig op ramme en ooie se kondisie en vrugbaarheid kan inwerk. By die eerste tekens van diere wat krap en skuur moet hulle ondersoek word en dadelik behandel word. Alhoewel dit gewoonlik ‘n winter probleem is, kan dit enige tyd voorkom.
NB. Onderskei tussen skaapbrandsiekte en rooiluis VOORDAT met behandeling begin word! Rooiluise kan gelukkig met die oog waargeneem word, terwyl skaapbrandsiektemyte baie klein is en die beste met ‘n velskraap onder ‘n mikroskoop geïdentifiseer word. Alhoewel die simptome van die twee toestande baie dieselfde is, mag die doeltreffende behandeling daarvan verskil:
Skaapbrandsiekte kan doeltreffend met inspuitbare makrosikliese laktoonmiddels (ML’s) behandel word, asook ook deur die skape te dip (Pro-Dip™ Cyp 20 %).
Rooiluis - die ML middels is egter nie effektief om rooiluis mee te beheer nie! Rooiluis kan net doeltreffend behandel word deur die skape te skeer (as die wol lank genoeg is), en te dip.
NB. Aangesien die eierstadium van beide parasiete nie deur die beheermiddels gedood word nie, behoort twee behandelings 14 dae uitmekaar toe gepas te word sodat larwes wat na eerste behandeling uitbroei ook gedood kan word. (In die geval van skaapbrandsiekte, behoort dit by die Staatsveearts aangemeld te word aangesien dit ‘n aanmeldbare siektetoestand is).
Insekte (muggies)
Gedurende die somermaande (in die somerreënvalstreke), word die teenwoordigheid van muggies geassosieer met die voorkoms van bloutong en ander virussiektes. Alhoewel die beheer van muggies in ekstensiewe produksiestelsels oor die algemeen nie maklik is nie, kan dit veral by ramme ‘n opsie wees. Die gebruik van piretroïedbevattende dippe (Pro-Dip™ Cyp 20 %) wat as sproei oor die ramme gespuit word (2 tot 3 keer per week?), kan moontlik help om die muggies te beheer.
