Hierdie is artikel 3 van 7 oor hierdie onderwerp
Die liggaamskondisie van ramme en veral ooie met aanvang van die paarseisoen, is van uiterste belang om reproduksie te optimaliseer. By skape is dit nog meer van belang as by beeste as gevolg van die feit dat meerlinge by skape moontlik/wenslik is en voeding en kondisie ‘n belangrike rol hierin speel.
Ramme
Die kondisie van die ram tydens die paarseisoen is net so belangrik as die van die ooi. Tydens die paarseisoen is ramme se weityd beperk en spandeer hulle baie energie om agter bronstige ooie aan te loop en te dek. (Tussen dit deur, stoei hulle gewoonlik ook nog met mekaar!) Dit tap sy reserwes en indien die ram se kondisie nie reg is met die aanvang van die paarseisoen nie, gaan dit sy werksvermoë en vrugbaarheid nadelig beïnvloed.
Dit belangrik dat die kondisie van die ramme reeds 8 weke voor die aanvang van die paarseisoen bepaal en aangepas word indien nodig. Spermatogenese (ontwikkeling van die sperme tot en met volwassenheid) duur ongeveer 50 dae. ‘n Kondisietelling van 3 wat opbou na 3.5 met aanvang van die paarseisoen is gewens om seker te maak dat spermatogenese en die volume optimaal is met die aanbreek van die paarseisoen.
Waak egter daarteen om ramme te veel hoë-energiekragvoer, te vinnig in aanloop tot die paarseisoen te gee. Dit kan eerstens lei tot subkliniese suurpens wat nadelig kan wees vir spermontwikkeling. Tweedens kan dit lei tot die aansameling van vet by die nek van die skrotum, wat nadelig is vir vrugbaarheid aangesien dit temperatuurregulering beïnvloed. Indien aanvulling gegee word moet die inname geleidelik verhoog word. Daarby behoort die aanvulling goeie kwaliteit proteien te bevat om spermontwikkeling te optimaliseer.
Indien nuwe ramme aangekoop word, moet dit verkieslik 90 dae en nie korter as 60 dae voor die aanvang van die paarseisoen plaasvind nie. Ramme wat op veilings aangekoop word is gewoonlik in ‘n baie (te) goeie kondisie (4+) en te vet om dadelik tussen die ooie te sit! Hierdie ramme se byvoeding moet geleidelik oor ten minste 4 weke afwaarts aangepas word, na ‘n kondisiepunt van nie meer as 4 nie. Indien ramme te vinnig kondisie verloor kan hulle onvrugbaar raak gedurende die paarseisoen.
Ramme wat te vet en onfiks is kan met ‘n spoed wegspring om ooie te dek, maar baie gou stoom verloor (moeg raak). Indien ramme veilingsvet tussen die ooie gesit word gaan hulle heelwaarskynlik “uitmekaar val” aangesien hulle van ‘n hoë-energiedieet (vir afronding vir die veiling) na ‘n ruvoerdieet (veld/oesreste) gaan as hulle saam met die ooie loop. Die rumenmikrobes moet eers “aanpas” om meer ruvesel te kan verteer (ruveselverterende mikrobes se getalle moet eers toeneem), in plek van die mikrobes wat in ‘n maklik verteerbare, hoë-energie dieet oorheers. Hierdie aanpassing kan tot 21 dae neem.
Ooie
Meer as 70% van ‘n ooikudde se reproduksietempo word deur voeding bepaal. Voeding het veral ‘n groot invloed op die aantal meerlinge wat gebore word. 8 Weke voor die aanvang van die paarseisoen, kan in die verskillende produksiestelsels wat algemeen gevolg word, uiteenlopende toepassings hê bv.
In ‘n agtmaande (versnelde - lam 3 keer in 2 jaar) lamstelsel - is dit 1 maand nadat die ooie gelam het. Veral ooie met meerlinglammers is nou onder geweldige druk en melkproduksie bereik ‘n piek. Voeding van ooie in hierdie tyd is krities om die verlies aan kondisie tot die minimum te beperk. Daarom is dit van uiterste belang dat hierdie ooie in ‘n optimale kondisie moet lam - wat in die laatdragtigheidsfase gemonitor en aangepas moet word
In ‘n 12-maande lamstelsel waar ooie een-keer-per-jaar lam, is die ooie nie meer lakterend nie en die lammers reeds gespeen. Die ooie behoort dus in ‘n aanvaarbare kondisie te wees van 3, wat opbou na ten minste 3.5 tot selfs 4 met aanvang van die paarseisoen.
Die seisoen, weidingsomstandighede (kwaliteit en kwantiteit van weiding), asook die kondisie van die ooie sal bepaal watter byvoedingstrategie die mees toepaslike sal wees, om seker te maak dat die ooie in optimale kondisie sal wees met die aanbreek van die paartyd.
Ongeag die produksiestelsel, sal ooie wat teen hierdie tyd (6-8 weke voor paar), ‘n kondisiepunt van <2.5 het, spesiale aandag nodig hê. Voorsien beter weiding en/of ‘n produksielek met die korrekte inname om ‘n wesenlike verskil in kondisie te weeg te bring. Onthou dat elke 1kg verhoging in paarmassa, tot ‘n 1,5% verhoging in lam% kan lei.
Die rol van prikkelvoeding:
Prikkelvoeding het nie soseer ten doel om die besetting van ooie te verbeter nie (kan wel ‘n klein rol speel), maar hoofsaaklik om die aantal meerlinggeboortes (fekunditeit) by hoogsvrugbare ooie te verhoog. Met die regte aanvulling kan die voorsiening van prikkelvoeding, selfs by ooie in goeie kondisie ekonomies wees, mits die ooie hoogs vrugbaar is en die genetiese vermoë vir veelvuldige ovulasies besit. Prikkelvoeding behoort 3 weke voor die aanvang van die paarseisoen te begin en vir ten minste 42 dae (na aanvang van die paarseisoen) volgehou word. Dit sal verseker dat die embrios behoorlik vasheg in die baarmoeder. Indien ooie kort na bevrugting kondisie verloor, mag dit lei tot resorpsies of die afsterf van een of albei fetusse.
NB. By skape is dit belangrik om die diere fisies te ondersoek (voel) om die kondisietelling meer akkuraat te bepaal! Dit is veral van toepassing by woldraende rasse met wol van 6mnde en langer, waar die kondisie maklik verkeerd geskat kan word as dit net van ‘n afstand af evalueer word.
