B2C Page banner  for article 1680*300px - 8
Health Care

Score0 (0 Votes)

SKAAPBESTUUR - VOORPAAR: Algemeen

Hierdie is artikel 7 van 7 oor hierdie onderwerp

CONCEPTION TO CONSUMPTION - ‘N PROGRAM BENADERING

Die onderstaande is is geensins ‘n volledige lys nie, maar ‘n herinnering aan van die belangrikste aspekte wat aandag behoort te geniet om seker te maak dat alles vlot verloop met die aanbreek van die paarseisoen.

 

Ramme

  • Aantal ramme

Maak seker dat daar genoeg ramme is vir die paarseisoen. Die seisoen en grootte van kampe en teeltroppe speel ‘n rol in die ram/ooiverhouding. Alhoewel daar geweldige variasie tussen ramme se vermoë is om ooie suksesvol te dek, is die duimreël 1 ram per 33 ooie vir die volwasse ooie. Hoe meer kere ‘n ooi gedek word, hoe groter is die kans op meerlinge. Vir vervangingsooie kan die verhouding verminder word na 1 ram per 25 ooitjies. Gebruik verkieslik ervare ramme by vervangingsooie aangesien hulle bronstigheid nie altyd baie duidelik is nie of korter kan duur. Dit is altyd goed om ‘n ram of twee op “bystand” te hê vir wanneer ‘n ram gedurende die paarseisoen iets oorkom (siek/beseer, onvrugbaar raak ens.)

  • Aankoop van ramme

Ramme moet vroegtydig aangekoop word. Meeste veilingsramme is oorvet en moet eers kondisie verloor voor die aanvang van die paarseisoen. Daarby moet hulle ook “gespeen” word van die afrondingsrantsoen waarmee hulle vir die veiling voorberei word, sonder om te vinnig kondisie te verloor. By woldraende rasse word sommige ramme met langwol verkoop. Hierdie ramme moet verkieslik nie korter nie as een maand voor die aanvang van die paarseisoen geskeer word. Ramme met langwol (>8mnde) gaan sukkel om te dek.

  • Skeiding van ramme en ooie

Ramme en ooie moet verkieslik vir 2 maande voor die aanvang van die paarseisoen, so van mekaar geskei word dat hulle mekaar nie kan sien of ruik nie. Indien hulle in noue kontak met mekaar is, kan die ooie voortydig op hitte kom en dan in “teelrus” gaan teen die die tyd dat die paarseisoen amptelik begin, wat besetting nadelig kan beïnvloed (veral in ‘n beperkte paarseisoen).

  • Koggelramme

Die gebruik van koggelramme word aanbeveel om die ooie “aan te wakker” sodat hulle teen die tyd dat die regte ramme bygesit word, gereed is om op hitte te kom en dadelik beset te raak - veral nuttig in die “afseisoen” wat nie die natuurlike paarseisoen is nie (lenteparing). Koggelramme moet vroegtydig voorberei word sodat hulle nie die ooie kan bevrug teen die tyd wat hulle tussen die ooie kom nie! Vir die beste resultate moet 3% koggelramme vroegoggend van dag 1 by die ooie gesit word, 9 dae voor die aanvang van die paarseisoen. Haal uit die dag wanneer regte ramme ingesit word. Die koggelramme moet baie geslagsaktief wees met ‘n hoë libido (Afrikaner/Afrino ramme werk baie goed)

  • Fiksheid

Ramme moet fiks wees met die aanvang van die paarseisoen. Die ramme moet daagliks geoefen word deur hulle teen ‘n vinnige tempo te laat stap - veral as hulle vooraf in klein kampies aangehou of aangekoop is. Begin met 10 minute en verleng die tyd geleidelik tot hulle  30 tot 45 minute per dag vinnig stap. Tydens die stapsessies kan ramme ook gemonitor word vir hoef-, koot- en gewrigsprobleme.

  • Pote (en horings)

Sorg dat ramme se kloutjies nie uitgegroei is nie - gebeur veral in sanderige omgewings of waar ramme nie baie loop nie (klein kampies). By ramme met horings moet seker gemaak word dat die horings nie onnodig lank uitgegroei is of na binne krul nie. Knip horings korter indien nodig.

  • Wollengte (woldraende rasse)

Ramme moet verkieslik kort wol hê (<4 mnde) wanneer die paarseisoen aanbreek, maar verkieslik nie korter as 4 weke voor die aanvang van die paarseisoen geskeer word nie.

  • Aanvulling - ramme kan benewens Multimin/OptiLumen Sheep & Goats, 2 tot 3 keer per week koringkiem-olie gedoseer word om hul vrugbaarheid te optimaliseer.

  • KI - indien self ge-KI word, moet seker gemaak word dat die toerusting volledig en in plek is. Indien eie ramme gebruik word, moet hulle “mak” gemaak word en geleer word om ooie te spring vir saadkolleksie.

 

Ooie

  • Mikskeer (woldraende rasse)

Indien ooie langwol het (>8mnde), kan dit raadsaam wees om die ooie te mikskeer om die area rondom die vulva mooi oop en skoon te kry. Dit sal ook in die reënseisoen verhoed dat die ooie brommeraanvalle in daardie area kry.

  • Klas van ooie

Indien ooie nie reeds met speen van lammers geklas is nie, is dit nou ‘n goeie tyd om die ooie te klas voordat die paarseisoen begin. Kyk na die volgende aspekte :

  • tande - skot ooie uit wat se tande nie meer in ‘n goeie toestand is nie (geslyt, uitgeval, skeef ens). Ooie wat se tande nie meer goed is nie, mag dalk dragtig raak, maar gaan sukkel om hul kondisie te handhaaf en hul lam(mers) goed groot te maak

  • uier/spene - skot ooie uit wat se uier hard is of knoppe bevat aangesien dit hul melkproduksie gaan benadeel. Indien ooie se spene nie sag en volledig is nie (bv. punt met skeer afgesny), behoort hulle ook uitgeskot te word

  • skot ooie uit wat brommeraanvalle ervaar het, aangesien daar ‘n genetiese komponent betrokke is wat na die nageslag oorgedra word

  • skot ooie uit wat swak moederseienskappe getoon het met vorige lamtyd (veral belangrik waar van lamhokkies gebruik gemaak word), sodat hierdie swak moerderseienskappe nie in die kudde in geteel word nie.

  • doen laaste keuring van vervangingsooie wat eerste keer by ram moet kom. Hou bietjie meer ooie terug as wat nodig is vir vervanging, paar almal en hou net ooitjies wat dragtig raak (bepaal met skandering)

  • Pote (en horings)

Sorg dat ooie se kloutjies nie uitgegroei is nie - gebeur veral in sanderige omgewings of waar ooie nie baie loop nie (klein kampies). By ooie met horings moet seker gemaak word dat die horings nie onnodig lank uitgegroei is of na binne krul nie. Knip horings korter indien nodig. Ondersoek alle kruppel skape en behandel, of skot uit indien probleem herhalend voorkom.

  • Teeltroppe

Dit is nou die tyd om beplanning te doen rakende die teeltroppe en aantal ramme benodig vir die paarseisoen. Indien doelgerigte kruisteling gedoen word, is dit veral belangrik dat die beplanning vroegtydig gedoen word van watter ramme by watter ooie geplaas moet word om die maksimum voordeel (basterkrag) vanuit die kruisteling te verkry.

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?