B2C Page banner  for article 1680*300px - 4
Health Care

Score0 (0 Votes)

SKAAPBESTUUR - VOORPAAR: Geslagsgeskiktheid

Hierdie is artikel 2 van 7 oor hierdie onderwerp

CONCEPTION TO CONSUMPTION - ‘N PROGRAM BENADERING

Hierdie aspek is een wat baie keer agterweë gelaat word, terwyl dit wesenlike nadelige gevolge kan inhou. Die moontlike negatiewe impak daarvan word gewoonlik eers waargeneem wanneer dit te laat is. Die hooffokus hier is op die ramme, maar die ooie behoort ook ondersoek te word word.

Ramme

Die bepaling van ramme se geslagsgeskiktheid voor die aanvang van die paarseisoen word dikwels agterweë gelaat. Dit kan ‘n mens baie duur te staan kom - veral indien enkelramparings gedoen word (een ram per groep ooie), of indien ramme se saad vir varssaad KI (plasing van vars semen in die serviks via die vagina) of laparoskopiese KI  (plasing van vars/ontdooide semen in die baarmoeder via die buikholte mbv ‘n laparoskoop) gebruik gaan word.

Geslagsgeskiktheid behels baie meer as net om te kyk of ‘n ram vrugbaar is (lewendige saad het). NB. ‘n Ram kan vrugbaar wees maar NIE noodwendig geslagsgeskik nie! 

 

Bepaling van geslagsgeskiktheid behels die volgende:

1.  Anatomie

Dit behels die anatomiese geskiktheid van die ram om ‘n ooi suksesvol te kan dek en sluit die ondersoek van die volgende in: 

  • penis - moet tenvolle kan uitkom en nie gebreek/skeef wees nie

  • skrotum - moet simmetries wees, nie te lank nie (teelballe wat te laag hang raak makliker beseer) en moet nie aan die onderkant gesplete wees nie (negatiewe genetiese komponent).

  • teelballe - moet stewige konsistensie hê, ewe groot wees, nie gedraai wees (een vorentoe en een agtertoe wys nie), sonder knoppe wees en groot genoeg vir ouderdom van die ram

  • pote - kloutjies moet nie uitgegroei en/of gekraak wees nie

  • gewrigte - moet nie styf/beseer wees om ram te verhoed om ‘n ooi te kan spring nie. Kootgewrigte moet nie te lank/slap wees of deurtrap nie

2.  Libido - die ram moet geïnteresseerd wees in die ooie om sy werk te kan doen. Jong ramme behoort ook vooraf blootgestel te word aan ‘n dektoets, om te sien of hulle ‘n ooi suksesvol kan dek binne ‘n bepaalde tyd. Sommige ramme stel belang en spring maar sukkel om die gedek te kry. Verder wys navorsing dat 8-10% van jongramme homoseksueel kan wees!

3.  Siektes 

  • peestersiekte - kan in sommige kuddes ‘n probleem wees wat ‘n invloed op reproduksie kan hê. Dit word gekenmerk deur ‘n geswelde/misvormde vulva by ooie en skede-opening by ramme. Beide ramme en ooie moet dus ondersoek word en vroegtydig behandel word (langwerkende antibiotika) 

  • bybalontsteking (Brucella ovis) - veroorsaak onvrugbaarheid en is aansteeklik. Maak seker dat ramme wat ingekoop word ingeênt is en vry van bybalontsteking is

4.  Semenkwaliteit en -kwantiteit. Evaluering van semen behoort die volgende minimum ontleding/metings in te sluit:

  • Makroskopies

    • Kleur

    • Digtheid

    • Beweging

    • Volume

    • % Lewendig

  • Semensmere

    • Semenmorfologie (kop/stert afwykings)

    • Teenwoordigheid van vreemde selle (etterselle)

    • % Normale sperme

Kondisie en fiksheid - ramme moet nie oorvet wees in aanloop tot die paarseisoen nie. Dit veral belangrik dat ramme wat op veilings aangekoop word se kondisie geleidelik aangepas word om nie meer as 3.5 tot maksimum 4 te wees met aanvang van die paarseisoen nie. Ramme moet ook fisies fiks (geoefen) wees - veral belangrik waar ramme in klein kampies gehou word en dan met die paarseisoen in groot kampe hulle werk moet doen. Begin met 10 minute se stap en verleng die tyd geleidelik tot hulle  30 tot 45 minute per dag vinnig stap. Tydens die stapsessies kan ramme ook gemonitor word vir hoef-, koot- en gewrigsprobleme.

 

Ooie

By ooie moet ons seker maak dat die ooi se spene en uier funksioneel is. Dit help nie die ooi raak dragtig maar sukkel om ‘n lam of lammers effektief groot te maak nie. Indien ‘n speen beskadig is en die uier (of selfs net die een helfte) hard is of knoppe bevat, behoort die ooi nie gepaar te word nie. 

Maak ook seker dat die ooi se vulva nie vergroeisels/kanker bevat wat die paarproses nadelig kan raak nie. Tekens van die teenwoordigheid van peestersiekte kan ook by die vulva waargeneem word en moet vroegtydig behandel word (langwerkende antibiotika).

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?